Hoe weet mens jy doen die regte ding? Op daardie oomblik? Vir my was dit nog altyd die gut wat die kop en die hart oorheers. Die gevoel tot diep in jou beendere dat jy nou op die regte spoor is.
Ek luister vandag na die gewese Tjsegge Slowake wie se land 40 jaar gelede deur die Russe ingeval is, oor die radio. Hulle speel uittreksels uit stokou nuusberigte - die radio die enigste kommunikasie met die res van die aardbol. "We are asking you to take notice of the plight of Prague. We are under siege." Sê nou ek het daardie tyd in Apartheid Suid-Afrika voor die radio gesit en hierdie noodkreet gehoor. Wat sou ek gedoen het? Vandag, maklik - ja. Klim op die naaste vliegtuig - val in by een van honderde protesgroepe. Maar toe? Niks. Absoluut niks. Vir die volgende twintig jaar het hulle hel gehad onder die Russe. In Praag het daar skynbaar 'n museum oopgemaak met honderde foto's van die gebeure - foto's waarvoor fotograwe hulle lewens op die spel geplaas het. Die verslaggewer sê die jonges kyk nuuskierig daarna. Die oues is te verbitterd of skaam om daaroor te praat. Hulle moes besluit of hulle inval by Kommunisme en of hulle hulle gesinne en families aan vervolging wou blootstel deur anders te dink. Die juiste hervormings wat hulle in die eerste plek in dilemma gekry het. Die jonges moet vir hulself uitvind waar hierdie stukkie van hulle geskiedenis in hulle lewens inpas.
Rol nou die tyd aan na 2 weke gelede - terwyl die wêreld in verstomming na 9000 tromspelende Chinese soldate kyk, insluitende Vladimir Putin in die Beijing gehoor, rol die Russiese tenks in Suid-Ossettia in. Ek moes op 'n kaart gaan soek waar dit is. Die president van Georgia praat 'n suiwer Engels (hy het immers in die VSA studeer) en die meeste inwoners ook. Die tv kameras is oral, joernaliste word rondgery deur die Russe om eerstehandse kennis te kry oor hoe hulle die barbare van Georgia vasgevat het. Amper 2000 mense is alreeds dood in bomaanvalle - maar check vir Usain Bolt!
Hoe meer ons weet, hoe minder glo ons. Al sien ons dit voor ons oë gebeur. Ek wonder hoe voel Putin vandag? En die mense in die lang rye wat die hulp en kospakkies kry? Wat sê hulle gut vir hulle? En hoe slaap Putin snags?
No comments:
Post a Comment