Ek sien vandag twee jongmense vinnig aanstap in die reën. Die laaste 2 weke is al so triestig soos 'n James Blunt song wat oor en oor gespeel word hier in Bendigo. Hulle stap vinnig deur die Civic Gardens, hou hande vas. Die meisie leun in na die man toe, hy het sy ander hand in sy broeksak. Groot glimlagte. Geen sambreel nie - as jy jonk is, is jy bullet proof.
Hulle laat my dink oor vashou en vasmaak. Die bande wat mense vas maak aan mekaar en met hoeveel gewilligheid mens jou soms laat vas hou. Die Groene en ek het dieselfde herinnering oor 'n dag wat ons mekaar gegroet het. Hoe ons mekaar onthou. Van die eerste indrukke. Op die Pick & Pay parkeerterrein in Kimberley. Hy het oor die randsteen getrap en ek het van my kar na die sentrum aangestap - seker 20 meter teer en karre en mense met trollies tussen ons. Ek het gewaai, hy het gewaai. Daardie een oomblik, het ons later ontdek, het ons klaar gedeel in ons geheues. Toe praat ons oor plekke, gunstelinge en mooistes en sulke dinge. Hy sê: Pniel. Toe sê ek: snap! Meer as foto's en video's en musiek dra mens herinneringe in jou kop en jou hart rond. Beelde en flitse van dinge wat jy gesien het, plekke waar jy was, mense wat jy geken het.
Ek het so baie vriende wat geskei is, hulle bande met eggenotes, skoonfamilies, dorpe, blyplekke en werkplekke is geknip. Dit fladder soos linte in die wind. Hulle probeer soms om dit te vang, ander tye het hulle net nie die krag nie.
My kinders hou my graag vas. Hulle gee drukkies - soms gewillig, soms nie. Hulle hou mekaar ook vas, wat my gemoed baie gerus stel. Daar is tye wat jy nie vasgehou wil wees nie, ander kere hou mense jou so vas asof hulle jou nooit weer wil laat gaan nie. In 2006 was ek en Lin in Suid-Afrika. Daar was 'n paar sulke oomblikke - dit laat my so geliefd voel.
Toe ek en die Groene verlede jaar ons huweliksbeloftes hernieu het, het ons ballonne aan al die gaste gegee en hulle het die ritueel van loslaat so geniet. Ons het blessed reën gehad op die dag - wat altyd 'n goeie teken vir 'n huwelik is en die kollektiewe sug met die ballonne wat die lug invaar, het my nie verbygegaan nie. Dit was asof sorge en seer daarmee saam die lug ingestuur is deur almal daar. Die spatsels kleur teen die grys lug het is deur baie meer gedra as net die strome wind.
Oomblikke. Miljoene. Vasgemaak aan my hart soos linte aan 'n Meipaal.
1 comment:
Lyk my jou lewe word vol Riana's soos myne vol rooikoppe...
Jy "blog"-staaf besondere herinneringe en beelde in fynproewer-taal.
Giet jou goue gedagtes, smee die taal-juwele, versamel die kosbare skatte van leef en ervaar!
Riana
Ook van tussen die "wingerde met rooiwyn en boeke".
Post a Comment