Total Pageviews

Sunday, 13 July 2008

Rites of passage

Wel, sekere dinge sit jou mos in 'n ander klas in jou lewe. Jou eerste soen - nou is jy ook nie meer sweet 16 nie, jou eerste nag met iemand - nou is jy ook 'n lover, jou eerste kind - nou is jy ook ma.  Maar dis nie oor hierdie algemene dinge wat ek dit vandag het nie.

Mense met groot karre en 4x4 voertuie is duidelik in 'n ander klas. Hulle bestuur hulle skuld baie beter as ek, hulle het dalk nie aldag sekerheid oor die reuse verband en die dak oor hulle koppe nie, maar hulle het 'n windgat kar in die oprit. Sooooveel meer klas as ek met my wit Toyota Corolla. Wel - amper ... Want sien, die ding werk so. Vroeër het ons saam teen 'n lekker toelaatbare 100km per uur op die oop pad gery. Wel, deesdae ry ek alleen. Want, Meneer met die 4x4 kan nie die petrol bekostig nie. Maar pleks van soos die res van die volk sy groen voetspoor groter maak en met openbare vervoer ry, probeer hy steeds op die oop pad byhou. Ek is jammer, Meneer, teen 80km gaan jy dit nie maak nie. Dit KAN nie gedoen word nie. Verkoop jou fancy voertuig, kry vir jou 'n lekker pyl kar soos myne, sit hom op gas en dan ry jy weer saam met my. Maar op die oomblik is jy vir my net 'n groter pyn in die gat as gewoonlik.

Die ander ding is mos die maer bruid.  Of die yummy mummy. Of die maer ouma. Jy is in 'n unieke klas as jy 'n maer bruid, mamma en ouma kan wees. Ek lees maer Edith Venter is nou vir die 4de maal getroud. Nie vrot vir 'n skootsitter sekretaresse van jaaaare terug nie. Haar mans word al hoe jonger. Nou vra ek: wat is die nut van al die maer? Nie net vir haar nie, ook vir die ander planke. Ek ken vroue van 60+ wat almal rug, voet en cholestrol probleme het. Maer soos grate, nou almal reeds weduwees. 50 jaar se dra van spykerskoene, make-up, reg eet en DIS wat jy daarvoor kry. Met Meneer, vir wie al die moeite gedoen is, nog 6 voet onder die grond daarby. Gee my 'n donnerse break....

Ek eet 'n paar maande terug 'n lekker Caesar slaai met my twee kollegas. Een gay, geskei en vroulik. Die ander lank en lenig en vrygesel - man. Ons gesels oor dinge, die lewe, verhoudings en so. Die vrou het 4 jaar laas 'n verhouding gehad. Die man het 'n jaar gelede 'n date gehad. Ek is die dikste van die lot, maar het elke dag 'n honeymoon dag (as die Groene die slag by die huis is). Go figure!

Twee ander dinge het ook die laaste week of wat gebeur. Inez Laan het die doek vaarwel toegeroep en Imre Laan het sy pa gevra om sy training wheels van sy fiets af te haal. 

Rites of passage moet gaan oor jou lewe, nie jou klas nie. DIS waar dinge skeef begin draai. Of miskien verstaan jy net nie lekker hoe om te lewe nie.

No comments: