Finland: Onderwys wat vir almal werk
Jul 07 2008 07:38:19:627PM - (SA)
Anesca Smith
Skoolkinders in Finland word as die slimstes ter wêreld beskou. Maar wat is die land se resep vir suksesvolle onderrig? Anesca Smith het dié Skandinawiese land besoek en doen verslag.
Skoolkinders in Finland kry min huiswerk, gaan eers op 7 jaar skool toe en skryf nie juis eksamen of toetse nie. Hul onderwysers word toegelaat om hul eie werkure te bepaal en daar is nie ’n enkele elite-skool in die land nie.
En tog presteer Finse kinders uitsonderlik goed. Só vaar hulle keer op keer die beste in ’n internasionale peiling wat 15-jariges uit 57 lande in wiskunde, wetenskap en lees toets.
Die peiling, wat elke drie jaar gedoen word deur die organisasie vir ekonomiese koöperasie en ontwikkeling (OECD), staan bekend as die program vir internasionale studentebeoordeling (Pisa). In 2006 en 2003 was Finland bo-aan die lys. Die volgende beoordeling is in 2009.
Met my besoek aan die Kulosaari-laerskool in die hoofstad, Helsinki, aan die begin van Junie was die klaskamers leeg. Die somervakansie begin reeds einde Mei en duur tot Augustus, om die beste te maak van die sonnige weer dan in ’n land waar dit tot nege maande van die jaar koud kan wees.
Die skoolhoof, me. Anneli Rautiainen, was egter byderhand om vrae te beantwoord. Sy, soos talle ander onderwysers, is gewoond aan besoekers van regoor die wêreld wat die geheim van die Finse sukses wil weet.
Salaris nie hoofsaak
In die eerste plek word baie hoë standaarde aan onderwysers gestel, sê Rautiainen. Elke aansoeker moet byvoorbeeld ’n meestersgraad in die opvoedkunde hê voor hy of sy oorweeg word vir ’n pos. En aan dié vereiste word gretig voldoen.
Finland is een van daardie rare plekke waar onderwys nou wel nie een van die hoogs betaalde beroepe is nie, maar wel een van die mees gerespekteerdes wat jy kan volg. Trouens, universiteite moet elke jaar aansoekers by die dosyne wegwys omdat die onderwyskursus so gewild is.
“Onderwysers doen dié werk beslis nie vir die salaris nie,” bevestig Rautiainen. Vergeleke met baie ander lande verdien onderwysers hier ’n gemiddelde salaris – net ’n fraksie meer as verpleegpersoneel.
“Hier spot ons altyd dat studente onderwysers word omdat hulle dan Junie, Julie én Augustus vakansie kan hou! Ek glo egter werklikwaar hulle doen dit vir die liefde van die saak. Dit is ’n beroep waarin jy baie kreatief kan wees en ’n impak kan hê op jou land se toekoms.”
Sy erken egter dit is deesdae moeilik om ’n onderwyser te wees. “In vandag se samelewing is daar soveel egskeidings, gebroke huise, enkelouer-huishoudings . . . Talle kinders weet nie hoe om in groepsverband te funksioneer nie en ouers werk lang ure. Onderwysers speel dus ’n groot rol om leiding te verskaf en dit het ’n stresvolle beroep geword.”
Die Finne glo vurig in gelykheid as dit by onderwys kom. “Ek sê altyd vir ouers elke skool is ’n goeie skool,” sê Rautiainen. Van die groot stede soos Helsinki en Tampere tot in die verste uithoeke van Lapland geniet almal dieselfde voordele in onderwys en dit is gratis van graad 1 tot universiteit. Skole verskaf ook etes aan leerders en al hul leermateriaal.
Leeslus aangemoedig
Die ander kant van die munt is natuurlik dat Finse inwoners, net soos in hul Skandinawiese buurlande, hemelhoë belasting betaal om hul uitstekende onderwys-, gesondheid- en welsynstelsels aan die gang te hou.
Me. Tarja Halonen, president van Finland, meen die Finne was nog altyd goed op onderwysgebied, maar mense elders het dit besef omdat hulle so ver in die noorde van Skandinawië is. “Dit is beslis nie iets wat oornag gebeur het nie,” het sy in ’n onderhoud gesê.
En met ’n glimlag bygevoeg: “Ons hou ook nie daarvan om ons eie beuel te blaas nie.”
Nog ’n verduideliking vir haar land se akademiese voorsprong lê dalk daarin dat ’n liefde vir lees reeds, met aanmoediging van die regering, van kleins af by Finse kinders gekweek word.
Met kinders se geboorte kry elke ouer ’n geskenkpak van die regering wat prentjieboeke insluit. Waar moeders in Suid-Afrika vier maande swangerskapverlof kry, is dit tien maande in Finland. Hulle kan ook tot drie jaar onbetaald by die huis bly sonder om hul werk te verloor.
Baie Engelstalige boeke word vertaal. TV-programme sowel as rolprente word met Finse subtitels uitgesaai pleks dat dit oorgeklank word. Baie waarnemers glo dít is hoekom kinders hier so gou leer lees.
In die meeste boekwinkels kry ’n mens titels in Fins (die meerderheidstaal), Sweeds en Engels. Finland was vir 700 jaar onder Sweedse heerskappy en daarna vir 100 jaar onder Russiese beheer voor die land in 1907 onafhanklik geword het.
Die Finse taal is enig in sy soort, maar het, verrassend genoeg vir besoekers, nouer bande met die Balkiese lande soos Hongarye as met Skandinawië.
Volgens Rautiainen is moedertaalonderrig baie belangrik. In haar (tweetalige) skool is daar 350 leerders, 22 onderwysers en ongeveer 18 verskillende moedertale word gepraat.
Kinders wie se moedertaal nie Fins of Engels is nie, kry twee ure per week ekstra onderrig in hul moedertaal soos Sweeds, Oerdoe of Russies.
Normaalweg kry die eerste twee grade 19 uur per week skoolonderrig, dan word dit 24 uur vir die volgende twee grade en uiteindelik 25 uur vir gr. 5 en 6. Vir praktiese vakke soos houtwerk word die klas gewoonlik in twee verdeel sodat die onderwyser meer aandag aan elke kind kan gee.
Godsdiensonderrig – in die Christen- en Islamitiese geloof – is ’n uur per week in gr.1 en skuif geleidelik op na drie uur per week. Leerlinge wat geen godsdiens aanhang nie, kry lesse in etiek in daardie periodes.
Klem op die swakkes
Onderwysers moet ’n minimum van 24 uur per week werk en word betaal vir elke ekstra uur wat hulle werk. Rautiainen sê as sy een ding oor die Finse stelsel kon verander, sou dit wees om onderwysers effens langer te laat werk.
Elke skool het ’n heeltydse verpleegkundige, ’n sielkundige, ’n berader en ’n onderwyser vir kinders met spesiale behoeftes. Leerlinggetalle in Kulosaari se klasse wissel tussen 17 en 33.
Die voorskoolse jaar is nie deel van formele skole nie, maar wel van die land se dagsorgstelsel en begin op 6 jaar. Laerskole koördineer egter met die dagsorgsentrums oor elke kind se behoeftes, asook met die hoërskole waarheen die kinders ná gr. 6 gestuur word.
“Die eerste skooljaar is ’n baie belangrike stadium in ’n kind se ontwikkeling. Trouens ons glo sy of haar vermoë om te begin lees en skryf, is presies ryp op 7 jaar,” sê Rautiainen.
Die skool se doelwit is konstruktiewe interaksie. “Dit is belangrik dat die stadige en begaafde leerders saam les kry en só hul kennis met mekaar deel.
“Ek erken die klem is dikwels meer op die swakkes, want ons is vasbeslote is dat geen kind moet agterbly nie. Maar dit beteken nie ons laat die begaafdes net op hul eie voortgaan nie. In die Pisa-peiling was Finland ook die land waar die gaping tussen die slim kinders en die swakkes die kleinste was.
“Vroeër was die onderwyser die enigste bron van kennis. Nou glo ons die kinders leer van mekaar en die onderwyser is die voorsiener of die fasiliteerder.”
Die skoolstelsel is baie akademies geöriënteerd, maar kinders word geleer om krities om te gaan met die kennis wat hul opdoen en eie keuses uit te oefen. “Daar is deesdae so baie inligting beskikbaar dat ons verplig is om hulle hierdie vaardigheid te leer,” sê Rautiainen.
Die regering verskaf nasionale gidslyne, maar daar word ruimte gelaat vir elke skool om sy eie kurrikulum-aanpassings te maak. “By Kulosaari het ons besluit om die klem op wiskunde en omgewingstudies te laat val. Kinders kry dus ’n paar ekstra lesse hierin per week.”
Onderwysers kan hul eie onderrigmetodes ontwikkel. Hul lesse word nie gegradeer of geëvalueer nie. “As ek in ’n klaskamer instap, is dit om te help les gee, nie om oor die onderwyser se skouer te kyk nie,” sê Rautiainen.
“As ’n professionele mens weet ek hoe elkeen vorder. Ek praat baie met die kinders en maak seker ek gaan twee keer per dag na die personeelkamer om informeel met onderwysers te praat, of hulle kan na my kantoor kom.
“Ons glo nie in inspeksies nie. As ek ’n oudit by die skool wil laat doen, laat weet ek die onderwysdepartement. Twee of drie onderwysers van ’n ander skool kom dan hierheen. Hulle sal onder meer deur ’n stel vrae saam met ons werk en dan ’n verslag skryf. Die verslag word slegs aan die departement en die skool voorgelê.
“Ouers beantwoord ook elke vier jaar vrae oor die gehalte van onderwys by die skool en die onderwysers doen dieselfde een keer per jaar.”
Van tyd tot tyd is daar ook nasionale toets en een soos die Pisa-opname, maar leerders skryf nie juis formele eksamens of toetse nie.
Soos Rautiainen dit stel: “Ons glo in leer, nie in toets nie.”
Die sleutel
Onderwysers:
Moet 'n meestersgraad hê
Nie groot salarisse nie
Liefde vir saak is prioriteit
Ekstra betaling vir ekstra ure
Ouers:
Betaal hoë belasting vir onder meer puik onderwys
Lang kraamverlof sodat ma kan tuis bly
Kinders:
Voorliefde vir lees van kleins af gekweek
Kritiese denke gestimuleer
Baie aandag aan swakker leerlinge
Moedertaalonderrig belangrik
No comments:
Post a Comment