Total Pageviews

Wednesday, 18 June 2008

Hakketrip

Ek koop anderdag vir Imre nuwe skoene. Een van die keuses op die rak is skoene met veters. Ek vra wat dink hy daarvan. Hy antwoord dat hy nie die veters kan vasmaak nie.  En ek wonder hoe het dit gebeur dat my seun nou al 6 is en nie veters kan vasmaak nie. Want dit was nog nooit in sy lewe nie, nie sedert skoene met velcro gemaak word nie.

Ek dra nog skoene met veters en het net die volgende dag juis die een veter vasgetrap. Wat my toe laat dink het aan hoekom mens val as jy jou veter vastrap. Watter voet is die skuldige? Nie die een wat die vastrapwerk doen nie, maar die een met die los veter.

Iets wat nog erger is as om jouself te laat val, is as iemand jou hakketrip. Mens sien dit vandag nog baie in sokker en dit is die een aksie wat arme Zola Budd vir al die verkeerde redes op televisiestelle regoor die wêreld laat beland het destyds met die Olimpiese Spele.

Hoërskool Namakwaland, die bakermat van Afrikanerdom in Namakwaland, is in die vorm van 'n E, met 'n ekstra been. Vleuel A vir Afrikaans, Geskiedenis, Ekonomie, Aardrykskunde, Tik, ens, die B-vleuel vir die wetenskappe soos Wiskunde, Skeinat, Biologie ens, die C-vleuel vir Huishoudkunde, en sommige tegniese vakke. Die D-vleuel was daar vir Motorwerktuigkunde, Elektries en sulke dinge.  Die A, B & C vleuels was aanmekaar verbind met 'n ellelange gang wat elke dag deur leerlingraadslede gepatrolleer is terwyl honderde leerlinge heen en weer stap met tasse hopeloos te swaar gelaai vir liggame wat nog nie sterk genoeg is om die las daarvan te dra nie.

Ek was in Std 7 die dag toe Surita Rupping my in daardie selfde gang gehakketrip het. Sy was van die Port se Ruppings, nie die kleurryke Ruppinke van die Kalahari wat ek  jare later sou ontmoet nie. Ek het 'n blou tas gehad met knippe, van harde karton, nie die  waterdigte materiaal tipe met die vakkies nie.  Dit was 'n skooltas met karakter - met stickers aan die binnekant en groot genoeg om alles te kon hou van 'n jong meisie van 14 se lewe en drome. In elk geval, tydens een van die massa-verskuiwings tussen periodes, hakketrip sy my net nadat ek by die lang gang wat afloop na die saal verbygestap het. Sy was agter my in die ry. Ek onthou presies hoe my tas op die grond geval en oopgespring het toe ek struikel.  Alles wat ek vir myself gehou het, het oor die blokkiesvloer gesprei gelê. Vir almal om te sien. Ek het uit die ry gestap, gebuk en my goed bymekaar begin maak. Uit al daardie honderde leerlinge wat verbymarsjeer, het  een enkele persoon gestop en my gehelp. 

Hy was in Std. 9, uit die tegniese klas. Sy naam was Larry Makuch - ons het elke liewe dag in die bus saamgery van Carolusberg na Springbok vir 3 jaar en nooit 'n enkele woord mekaar gepraat nie.  Sy broer Gavin was so oud soos ek, sy ma was Tannie Delphi en sy pa Uncle Ted en hulle het 'n Peugeot gery - die tipe met die vinne agter.  Hulle het in die heel laaste ry van die dorp gebly en in laerskool het ons soms daar gaan speel.

Toe ek verlede week my veter vastrap en struikel in die skaduwee van Bendigo se 100-jaar oue stadsaal, kom Larry Makuch se beeld so helder soos glas in my kop op.  Wat hom daardie dag laat stop het, sal ek nooit weet nie. Ons het nooit daaroor gepraat weer nie of oor enigiets anders nie. Maar ek hoop dit gaan goed met hom, waar hy ookal is en dat hy steeds random acts of kindness uitvoer wat die wêreld 'n genaakbaarder plek maak.

No comments: