Total Pageviews

Tuesday, 21 August 2007

Die dag van die mulch

Ek het amper 'n maand laas geskryf en is nou op die stadium waar ek dreigbriewe ipv fan mail kry omdat ek so stil is. Nou ja, my nuwe werk hou my baie besig. Die ewige stryd om man en muis in plaaslike regering te laat verstaan dat die lewe uit meer bestaan as geboue of selfs die omgewing (die kan immers nie terugpraat nie!), maar dit is hulle sosiale verpligtinge waarmee hulle so sukkel. Dieselfde hier, NZ en SA. In NZ is daar ook in die plaaslike owerheidswet nog 'n kategorie: kultureel. Met reg. Hier is dit nog ligjare agter.

Maar, dit alles vertel nie van my pyn nie. Ek glo nie in oefening, ek sal selfs so ver gaan as om te sê ek dink oefening is die AntiChris. Maar, die afgelope week het ek myself verstom. Verlede Dinsdag het ek TaeKwonDo begin doen. Dit was deel van die ooreenkoms met Imre as hy sou gaan. Sedertdien was ek nog nie een Dinsdag of Donderdag tuis om saam te gaan nie. Die koördinasie was die ergste. Omtrent soos leer kar bestuur van vooraf. En kort-kort word ek deur Imre vertel wat ek verkeerd doen. Dit was groot pret. Ek het gedag ek sou seer wees van bo tot onder die volgende dag, maar duidelik het ek dit nie reg of vir lank genoeg gedoen nie, want ek was my gewone fleksbare self die volgende oggend. Reken ek dat ek dalk fikser is as wat ek gedink het.

Kom Saterdag: die dag van die mulch. Die Lane se tuin (ons huis het nog nie 'n amptelike naam nie, maar dit gaan Lisikisiki wees as ek ooit daarby uitkom om die letters te koop), is 'n oerwoud van onkruid, veral suring, grasse van alle tipes, duwweltjies en die groot meneer: Cape Weed. Die Groene het 'n trokvol mulch gekoop en dié moet nou oor die tuin uitgesprei word om enige verdere onkruid vas te vat en vrek te smoor. Ek reken dit is 'n onbegonne taak as die peste nie een vir een uitgeroei word nie. So, is toe met daisy weeder (madeliefievurk?) 9 vm. in die tuin Saterdagoggend. Ons erf is op ' n hoek, so loop in 'n L-vorm. Ter wille van die prentjie moet ek verduidelik dat die hoop mulch aan die kort kant van die L lê, terwyl ek begin werk aan die bopunt van die lang been van die L. Ek begin teen ons buurman se heining. Hierdie gaan nog 'n baie lang dag word en ek het sielkundige versterking nodig. Ek sleep 'n emmer mulch nader. Soos ek 'n papierdun strepie deur die onkruid sloeg, gooi ek mulch. Nou kan ek sien ek vorder. Daar klaar, stel ek my teiken op: die tweede roosboom langs die paadjie. Nou werk ek dwarsoor en die lang-kant oor nie. Ek sien gou dat ons vriend Cape Weed verskeie gedaantes aanneem. Die lekker groot, vet plat plante wat mens sommer met een poke & pluk uitkry, dan die kleineres wat bietjie meer aandag verg en dan die die wat net in die babastadium is en feitlik een vir een moet uitgetrek word.

Genadiglik is dit 'n pragtige dag en ek kom gou in 'n ritme. Buk, trek, gooi, buk, trek, gooi. Vreeslik terapeuties. Die area wat ek bespring word al hoe groter. Intussen bring die Groene nog mulch en ek sien hoe my pogings van kleinletter l na grootletter L verander. Die paar regte plante in die onkruidoerwoud slaak sigbaar 'n sug van verligting toe hulle deur mulch omring word.

Intussen sukkel ek al hoe meer om orent te kom en moet nou of buk of regop staan. Ek voel dinge begin kwaai styf trek in my bobene se agterkant en die boude is nie ver agter nie. Dit is nou 6 ure later en my tweede roosboom lyk so ver soos die oorsprong van die Nyl vir Livingstone in die oerwoud(e) van Sentrale Afrika. Ons ander verpligting vir Saterdagaand is 'n maskerbal, in Seymour. Ek besluit om halt te roep. Sal Sondag verder gaan. Ek gaan lê skuins vir 'n paar minute: in my drome sien ek net Cape Weed en hoe dit uitgepluk word. Na die maskerbal gaan my drome voort: net onkruid. Die arme Groene, uitgeput homself, moet maar doeke en bottels gaan haal deur die nag. Imre moet goed vir Moeder optel - want Moeder kan nie buk nie.

Sondag is ek terug in die tuin, hierdie maal net vir 2 ure, maar ek maak dit tot by die 2de roosboom. Die Groene kom terug met goeie raad van 'n nog Groener persoon: eerder as onkruidmat, sit platkartonbokse neer op die onkruid en gooi dan die mulch daarop. Dit spaar my die stryd om die gras te probeer uitroei, want dié moet feitlik stingel vir stingel uitgetrek word. So, nou gaan dinge beter. Baie stadig word die groen tuin 'n bruin tuin. En nog later sal daar ook ander, groter plante ingaan.

Dit is 'n groot werk, maar ons geniet dit en die pyn sal ook beter word. Nou, om net vanaand TaeKwonDo te oorleef...

No comments: