Total Pageviews

Thursday, 3 May 2007

suid van iewers/ south of somewhere

Hier volg 'n paar uittreksels uit my eerste boek "suid van iewers/ south of somewhere" wat net gister van die drukkers af kom. Dit is 'n spanpoging tussen my en my vriende en die stories het net twee temas gehad: dit moes gaan oor reise of oor die suide van iewers. Wat 'n genotvolle leerproses!

Suiderstrand
Johan Beukman

Daar is ‘n strand ver van hier
in die suidste land van Afrika
dit is ‘n plek van rus en duur
waar selfs tyd kan asem skep

Die roetekaart hierheen is yl gesaai
jou siel moet self die rigting kry
geen kompasnaald verklap dié ware noord
net ‘n lighuis flits en flits: rotse voorbehou

Volg die meeue anderkant die duinbosreservaat
verby skeepswrakke se verroeste geheimenisse
daar waar die wolkehemel geskilder staan
en die son amper vir ewig bly ondergaan

Dan besef jy: dit is die baai verby die suidste punt
verby jou eie vrees en dit wat ander weet
daar is altyd iets wat verder wink
met verbeelding bly ons ewig kind


heimat
René Laan

“ek bly hier in die dorp waar die treine loop”
my kop klop: Gert Vlok Nel
die baie groen slurp alle klank op
die langste wit wolk sleep eindeloos verby
haere mai, haere mai
ek troos myself
alles is steeds kapai

II
“the most isolated country in the world”
die meeste reisigers per kop
die natste weskus is die meeste Kaap
die somer rondom om en verby maanskyn lig
ek sit voor die vuur
google die kalahari se son
gryp dit in my vuiste vas

III
arms en arms varings
“soveel skadu’s van groen”
palms, kauri, manuka, swarte sand
plat water oor myle skulpgruis
tapu, tapu
vir een enkele kameeldoring
selfs net ‘n kleintjie

‘n wielvers aan die meisie
met die man met die fiets
Johann Oosthuizen

tussen grense
lê blomme op katoen gevlek
deur ‘n wilde wegholwind
tussen glase
poele van kristal
wat val
in die breekwater
van môre
rubber sing op die teer
deur kronkels
na ‘n horison van heuwels
waaraan vingerpunte
net-net nie kan raak nie

Om in vrees te reis
Wilna Steyn

Toe ek ons kind vanjaar by die universiteit gaan aflaai, was ek verlig om te sien dat daar ‘n veiligheidsheining reg rondom die koshuis is. Die Eersterivier was maar ruig toe ek ‘n student was. Terwyl die ander ouers met die koshuishoof gesels, het ek die veiligheidswag gevra of dit veilig is.

“Breek hulle baie in?”

“Nie meer so baie nie,” sê hy. “Die Groen Roete, die rivier ingesluit, word gepatrolleer deur wagte met geel uniforms. Jy het seker gehoor van die meisie wat daar aangerand en geskend is?”

Tammy
Louwrens v/d Merwe

Hy vertel my dat hy kort na sy aankoms hier vriende gemaak het met 'n paar baie stout Afrikaner jongmans wat net voor hom hier aangekom het en 'n bietjie baie meer wêreldwys was as hy. In elk geval, so loop hulle een aand in Queenstraat in Auckland en die manne vra hom of hy al by 'n “Escourt Agency” was en hy sê hulle gaan hom nie met daai een vang nie, want hy het een keer 'n Ford kar gehad en dié het hom soveel kak gegee dat hy nie eens na 'n “escourt” wil kyk nie!

30 grade suid van die ewenaar, 90 grade suid van hoop
Jo-Ansie van Wyk

Anderkant Elandspoort trek ek af by die grootste kokerboomwoud in die Kamiesberge. Die verspreiding van die Aloe Dichotoma’s is perfek soos die Golden Ratio en die Fibonacci-getal. Die woud lê knus tussen berge waar die kranse antwoord gee. Ek kry ten minste twee reuse-kokerbome hier. Ek vermoed dis die heel eerste saad wat hier geskiet het. “Kyk na die lelies van die veld…”[1]

[1] Die Aloe Dichotoma is ‘n sub-divisie van die leliefamilie, Liliaceae.

3000 km in 6 dae
Ernie Langner

Vir middagete het ons 'n snoek oor die kole gehaal, hoog bo die branders op die kranse van Coffeebaai. Dit moet verseker een van die mooiste plekke in ons land wees. Van daar is ons Port St. Johns toe, met sy lui rivier, welige plantegroei en ongerepte kuslyn. 'n Sagte motreën het ons kom waarsku dat mooiweer dalk môre net 'n gedagte kan wees. Die volgende oggend was egter fantasties helder – soos 'n eerste skeppingsdag. Port St. Johns wou ons nie laat gaan nie. Hy gaan my nog eendag in my drome terugroep.

Almanak
Rene Laan

Op 27 April elke jaar drink ek en die Groene plegtig ‘n glasie op die demokrasie en die wonder van die reënboog. Maak nie saak waar ons is nie, ons dra Afrika in ons hart en vryheid in ons sak. Op 16 Junie drink ek alleen ‘n glasie peperduur SA rooi en wonder hoe ver jy nou al met die korporatiewe leer opgeklim het.

I spy with my little eye……ummm something beginning with U.
Rachel Cameron


My apparently uncharacteristic behaviour can be explained somewhat I hope by the fact that the boys are preparing to jump off this quite magnificent form of cliff. Actually when one looks around, the whole place is rather magnificent. I’m down on the forest floor, kind of like the plankton at the bottom of the sea, while on either side of me rising really really high are cliffs spanning a long long way; the acoustics are pretty good as I find out only minutes later.

Chilliwors
Louwrens v/d Merwe

Ons nooi toe al wat leef en beef uit om vir ons boereworsresepte te stuur en heel spoedig het ons heeltemal genoeg resepte om 'n telefoonboek 'n minderwaardigheidskompleks te gee en een Saterdagmiddag trek ons by my huis saam met genoeg vleis en speserye om “meals on wheels” vir 'n maand lank te “run”. Een man is aangestel om notas te maak van resepte wat werk en opmerkings neer te skryf wat gemaak word oor die resepte. Ewe manhaftig het die man ook sy knipbord nadergetrek en ek kon sien hy maak twee kolomme - een vir "speserymengsels" en een vir "opmerkings".
Elke ou het sy gunstelingresep saamgebring en heel gou begin ons mengsels toets en braai en proe en elke stukkie wors word aangejaag met 'n slukkie uit 'n botteltjie of glas. Sommer spoedig blyk dit dat ons 'n paar wenresepte het, maar die aand lê nog voor en daar is nog baie resepte wat deurgewerk moet word en ook genoeg voggies om dit mee af te sluk vir bemoediging en ons stoei voort.


One Yank's A-Z guide to places south of the Mason-Dixon Line, USA.
Michelle Bradley


Arkansas is one of those states and was my home for nearly a decade. Here I was called a 'damn Yank' because my origins were north of the line. Now I am a 'bloody Yank', as referred to by my fellow Australians who do not discriminate based on which state Americans are born.

I may never be a southerner by American standards, but I will always feel a connection to Arkansas and some of the surrounding areas.

The places I lived and visited in and around Arkansas are a refuge from the stereotypical American image. At times it is slower, gentler and warmer. Other times it is surreal.

'n Storie vir Suid-Afrika
Ben Mouton

Harris raak uit die leunstoel uit wakker toe die klop aan die deur aanhou. Seker een van MK se manne wat hom geluk wil wens met sy puik vertoning, hulle het almal gedink hy gaan verroes daar in Europa. Hy stap deur toe en maak dit met groot verwagting oop. Voor hom staan twee mans wat hy in sy lewe nog nooit gesien het nie en hulle lyk ook nie baie vriendelik nie. “Harris, kom saam,” sê een en vat hom aan die arm. Hy voel hoe hy yskoud word en wens hy was nog steeds in die buiteland, weg van alles af en veral weg van sy nemesis wat op hom wag. Harris sit eensaam op ‘n stoel in die middel van die vertrek en kyk na Langhendrik wat al in die rondte stap sonder om ‘n woord te sê. Harris kan sien die man praat met homself en verbeel hom hy hoor vuil taal, maar besluit dit is beter om maar eerder niks te sê nie. Hy weet hy is in ‘n tight spot en wil nie die lang man nog kwater maak nie, hy het al gehoor van mense wat sommer uit hoë geboue vlieg asof hulle voëls is.

Moord in Suid-Afrika
Ben Mouton

Harold sit en suig aan sy sigaret. Sy vingers speel trom op die lessenaar voor hom. Hy voel nogal bek-af oor die feit dat hy Steve moes loop haal het. Die dinge in die Oos-Kaap is nie meer dieselfde sedert alle hel die vorige jaar in Soweto losgebars het nie. Al die voorbokke kom van sy wêreld af en hy weet nie juis hoe om oor die klomp te voel nie. Die mob het seker ‘n goeie idee, maar hy kan aan sy gat voel dat dié hele Steve-storie iets meer is as gewoonlik. Self het hy nie eintlik pyne met die man nie, maar dinge raak nou bietjie te warm vir hom. Terwyl hy nog so sit en tob, lui die foon. “Bring Steve vir ons, nog vannag.”

My South Africa
Lin Tucker

Ask me now what South Africa conjures up and I will tell you: amazing landscapes of huge proportions; incredible colours from the population to the plants; generous, friendly and just wonderful Afrikaans people who made me feel so welcome.

No comments: