Soos Coenie Div is ek al die laaste 48 uur in die verre verlede. Loop gister op die mark 'n hele boks turksvye raak. Koop dit terstond. Seker 10 kg. Wat nou gedoen? Ek seil op die internet golf - kry op www.uitsaaines.co.za 'n susterskakel na 'n webwerf: www.boerekos.com (wat ook t-hemde verkoop). Een t-hemp vra: Soek jy my tert? Met 'n sappige prentjie van 'n vet stuk tert daarby en natuurlik die webadres daaronder. Maar wag, ek dwaal af (hoekom is die konneksie tussen kos en ander sinnelike dinge altyd so glurend d-u-i-d-e-l-i-k?) Terug by die resep: kry daar 'n hele boek met allerhande Ouma-se-kos resepte, ook turksvykonfyt. Probleem opgelos. Nou, terug by die turksvye: die goed moet geskil word. Dit is nou waar die verlede wydsbeen oor my hede kom staan.
Soos julle almal weet, het ek grootgeword in Namakwaland, waar die land en die horison soms ineenvloei en jy jou kan verbeel jy woon inderdaad aan die einde van die wereld. My pa, lank reeds oorlede, het altyd turksvye gepluk (met handskoene) en dit dan tydsaam by die kombuistafel sit en skoonmaak. Vir die wat nie weet nie, 'n turksvy takel jy nie sommer trompop nie. 'n Turksvy benader jy versigtig en met ontsag, anders sit jy weke lank in swak lig en probeer met 'n stomp tweezer onooglike en onsigbare dorinkies uit jou vingers en handpalms trek. 100% mislukking gewaarborg. Jy takel daai turksvy met 'n vurk en 'n baie skerp mes. So vind my man en seun my gistermiddag by die kombuistafel: boks op die tafel, vurk en baie skerp mes neffens my en ta op die skinkbord. Jy druk jou vurk in daai turksvy, dan sny jy sy kop en stert af met die baie skerp mes. Nou maak jy 'n dun sny in die vel oor die lengte. Dan rol jy hom uit sy vel met die mes en die vurk. Versigtig om nie die vleis saam af te rol nie. Die turksvye hier is kopergoud van kleur. Ek het nog nooit iets so mooi gesien nie. Ons sit by die tafel en gesels, die Groene eet 'n paar. Imre kan niks met pitte verdra nie en gee gou weer sy stukkie terug. Later gooi ek die berg skille en dorings in die asblik en dink aan my pa. Hoe dikwels hy vir ons yskoue turksvye gegee het in die somer. My ma het nie die maag vir die dorinkies gehad nie, dit was meer my pa se ding. Namakwaland se somers, koue turksvye, kinders wat van die skool af kom. Heathcote se herfs, koue turksvye, man en kinders wat van Bendigo se uittog af kom. Daar is geen verskil nie, die sirkel word voltooi - soos dit hoort.
Maar, iets anders uit Carolusberg se dae vang ook my oog op die mark: kwepers! Ek koop terstond twee kilogram. Ons bure op Carolusberg was die Kennedy's. Elzette se ma, Tannie Bessie, het die wonderlikste ingelegde kwepers gemaak. Sy was ook so netjies dat mens letterlik nie net van haar vloere kon eet nie, maar 'n hele banket op die vloere kon voorberei. Ek het soms daar aandete geeet - rys, frikkadelle en daardie fantastiese ingelegde kwepers. Kwepers met sout het ons baie geeet toe ek en Elzette klein was. My pa het kweper-, appelkoos-,perske-, pruim- en vyebome op ons erf gehad (oe! moenie dat ek begin met vye nie! So nou en dan sien ek vars vye op die Victoria Mark, dan koop ek ten minste 10 en eet dit alles alleen op). En die waarde van herwonne water geken in die barre land. Ons kon net bad, het nie 'n stort gehad nie. Maar, ek dwaal af. Terug by die kwepers: ek sleep Huisgenoot se 500 beste Wenresepte nader. Dit is 'n wonderlike boek, as jy dit nog nie het nie, kry dit! 'n Heerlike resep vir gestoofde kwepers met suiker (natuurlik!), steranys, naeltjies en kaneelstokkie. Al 2 kg gaan in hierdie sous. Vir middagete vandag het ek gestoofde kwepers en Griekse joghurt. Hemels - net so wonderlik soos ek dit onthou toe ek klein was (nie dat ek dink Tannie Bessie het al in haar lewe iets soos steranys in haar kos gegooi nie).
Ons buurman hier in Heathcote is 86 jaar oud. Fiks soos nog iets. En ure se plesier. Hy bring altyd vir my rabarber, tamaties en sulke dinge. Dan maak ek iets daarvan en stuur vir hom 'n gedeelte terug. Gister bring hy rabarber hier aan, vanmiddag maak ek vir hom 'n koek met aarbeie, karringmelk en allerhande ander dinge daarin, soos net die Amerikaners 'n resep kan aanbeveel op www.about.com Dinge wat hy nog nooit gesien het nie, maar wat my kinders nou al leer. So maak ons nuwe sirkels in 'n nuwe land.
No comments:
Post a Comment