Total Pageviews

Tuesday, 3 April 2007

Mank

Die afgelope twee dae het ek seker twintig mense gesien wat mank loop. Van die baie duidelike besering-tipe tot die wat net hulle een voet sleep. Natuurlik is daar 'n biologiese verklaring daarvoor, maar dit gee my altyd die gedagte dat mense huiwer. Soos stotter en dalk ook hakkel. Wat gaan op meta-fisiese vlak met jou liggaam aan dat dit agter wil bly of stadiger by 'n plek wil uitkom as wat jou brein dit aanjaag?
Dit was vir my opmerklik dat meer mans as vroue mank loop. Hulle het natuurlik meer blootstelling aan beserings in hulle werkplek, maar in hierdie tye in Oz kan ek dit verstaan. Die geweldige droogte van nou hier het ek in Namakwaland in die 70's laas gesien. Ek onthou daar was toe kinders saam met my in my Sub A klas wat nog nooit in hulle kort lewens reen gesien het nie. Nooit. Mans hier kry op die oomblik swaar. Hulle wurg finansieel en hulle wurg emosioneel. Aussies is baie maklike en gemaklike mense. Min dinge laat hulle bootjies kantel. Maar mense wat 'n lewe uit die grond maak en nou skielik in die ry moet val vir staatshulp sodat die kinders se skoolgeld betaal kan word? Die grond is al wat hulle het en die ergste van alles is dat hulle nie eens iets aan die droogte kan doen nie. Voeg daarby 'n eerste minister wat so onlangs soos 'n paar maande gelede eers erken het dat die konsep van globale verwarming hoegenaamd bestaan en jy het 'n plofbare verkiesingsjaar op hande. Wat hierdie jaar natuurlik is.
Mens moet eerlik wees, Oz is grootliks woestyn. Daarom bly almal op die randjie en bitter min mense in die middel. Die Red Centre is fantasties vir toerisme, maar een man het eendag oor die radio gese: "You abandon all hope the day you buy an outback pub." In baie van hierdie plekke back o'Bourke is die plaaslike watergat die bymekaarkomplek, die kerksaal, die hart van die gemeenskap. Soms tel die gemeenskap net 20 siele, soms 'n massiewe 250. In sommige dorpe skakel die laaste een die lig af as hy trek.
Die jare wat ek in die Kalahari gewerk het, was loshande die gelukkigste tye wat ek in SA gehad het - werksgewys. Die ou spreekwoord lui: "As jy eers die Kalahari se sand in jou skoene het, kom jy altyd weer terug." Ek weet ek sal weer daar land, eendag. Ek voel my voete swaar word as ek daaroor skryf of na foto's kyk. Hoe moet hierdie mense se voete nie sleep wat die rooi sand van die Simpson of die Kimberley agterlaat nie - sonder keuse?
Gister was Die Dag van die Boek. Eindelik is dit klaar en by die drukker. Toe ek daar wegry nadat ek vir Caroline die onthou-ietsie gegee het, voel dit vir my asof ek een van my kinders vergeet het. Natuurlik begin die nagmerries vannag -is die foto's reg? ek is seker ek het daardie woord nie reg gespel nie? moes ek nie eerder daardie storie in 'n ander tydraam vertaal het nie? ens. ens. Erger nog is my seer keel toe ek Sondag met die boek klaar gemaak het. Ek het baie min gepraat met enigiemand die afgelope naweek, maar tog op meta-fisiese vlak het ek duidelik en aanhoudend gepraat en alles hardop geuiter wat in daardie boek staan. Soveel so dat ek met 'n seer keel sit.
Die liggaam lieg nooit. Hoe jy stap, hoe jy sit, hoe jy slaap, hoe jy beweeg - alles vertel wie jy is. Verby liggaamstaal (wat jou slegs in sosiale situasies opsom), is die taal wat mense waarsku: moenie te naby staan nie - ek hou van my vryheid
moenie so hard praat nie - ek luister na die stilte
moenie op my skadu trap nie - ek sleep my voete omdat ek aan goeie tye wil vashou.

No comments: