Ek het nog altyd 'n probleem daarmee gehad om my mond toe te hou. Veral vir kos - ja, maar ook om 'n opinie uit te spreek. Ek glo dat woorde steeds die magtigste wapen is: om te onderhandel, om te paai, om te kwets (en swets) en stem nie saam met Stef Bos dat niks sterker as stilte is nie.
Soms taktloos (gelukkig verbeter met die jare), maar meestal voortvarend en parmantig. Natuurlik al feisty genoem in NZ en assertive hier (miskien verstaan die Aussies my beter!) en een kollega in New Plymouth het altyd na my verwys as the Cape Typhoon. Is dit nou iets om op trots te wees? Miskien nie, maar niemand het my nog stil probeer maak nie. Ek praat op die man af, want ek kom uit die Noord-Kaap en daar brand die son jou vrek as jy met lang stories rondstaan.
Soms word goed nie gese nie, soms bly besigheid onafgehandel. En dit is ook goed so, vir die situasie en die persoon betrokke. Dikwels moet jy vra wat tussen die lyne aangaan, al word dit nie gese nie, maar jy ken jou vriende goed en jy moet vra. Al my vriende dra iets by tot my lewe, hulle is mense wat my meer mens maak. Die hele lot van hulle. Al sien ons mekaar min, al praat ons nog minder, hou ons kontak en is steeds skaduwees in mekaar se lewens. En kan vir mekaar goed se.
Ek dink terug aan my tienerjare en die op die Bos. Alles was so ingewikkeld en ek het so onnodiglik gewroeg oor goed (ter verdediging moet ek byvoeg dat ek ook vreeslik baie struggle literatuur gelees het en saam met die res van die nasie aan 'n moerse skuldkompleks gely het). Alles was so diep. Die eindelose filsofiese gesprekke oor rooiwyn en pizza.
Vroeg in my lewe het ek Voltaire (altans, ek dink dit was hy) se uitdrukking geleer: alhoewel ek nie met jou saamstem nie, sal ek jou reg om te se wat jy wil se tot my dood toe verdedig.
Ek dink dit was Jo-Ansie wat my dit die eerste keer vertel het, kon ook Braam Esterhuyse (geskiedenis-onnie) gewees het, maar my lewe het deur die jare minder wit en swart geword. Deesdae glo ek enigiets kan onderhandel word, die speelveld is nooit gelyk nie en dinge moet meer as ooit gese word, omdat ons almal minder tyd as ooit vantevore het om sake reg te stel voor die sand uitloop.
No comments:
Post a Comment