Voorverlede jaar bied ek 'n seminaar aan vir vroulike aspirant - raadslede. Ek kry die werk omdat ek die enigste fasiliteerder is by die Mitchell Shire Council en omdat enigiets met vrouregte, menseregte en etniese groepe altyd op my tafel beland het. Never mind dat ek net op kontrak by hulle was en regstegnies vir die Seymour We Want committee gewerk het. Ek en die ander gemeenskapslid ('n vreeslike sterk vrou van die agtergeblewe gedeelte van Seymour) kry goeie opleiding in Melbourne. 'n Basiese pro forma, informasiestukke wat mens net kan uitgee, ens. ens. Een van die dinge wat my bybly uit die opleiding, is dat mens moet weet wat is jou "sphere of knowledge" en wat is jou "sphere of influence". Die punt daarvan is dat jy jou sphere of influence moet versterk, in hierdie geval sodat mense vir jou kan stem as raadslid.
Nou ja, ek moet erken politiek op plaaslike vlak laat my koud en het ook al baie hardop gebrom dat ek al beter plaaslike politiek in die Kalahari en Namakwaland gesien het as hier en in NZ. En die hemel help ons van een-punt kandidate. Al waaroor dit gaan is sus of so, maak nie saak dat die hele plek uitmekaar val nie ("solank ons net daai robot op die hoek van Smith en High Street kan kry") Watter nonsens! Hoe weet hierdie mense wat ek as belastingbetaler wil he? Eers praat hulle jou ore van jou kop af en na die verkiesing dan praat hulle net met die munisipale werkers en sodoende word hulle kring van inligting al kleiner en kleiner, maar hulle kring van invloed bly dieselfde - uit hoofde van hulle amp. Tot ons die spul uitstem volgende keer.
Op die oomblik is ek stem-loos. Ons is nie burgers hier nie en al te lank uit NZ om daar te kan stem. Dit is vir my 'n vreemde gevoel. Die Groene stem in elk geval glad nie.
Ek het verlede week begin klas gee by die plaaslike TAFE. Dit is amper soos 'n technikon, doen net nie grade nie. Volwasse onderrig. Skielik is my kring van invloed baie groter as wat dit was. Heeltemal ook buite my kollegas en vakgenote. Ek vra die studente om hulle stories neer te skryf. Hulle doen gemeenskapsdienste en welsyn. My uitgangspunt is dat hulle hulself moet ken voordat hulle ander se situasies kan bemeester. "First you save yourself, then you save the wo-orld" sing Craig Johnstone. Binne die eerste twee ure wat ek hierdie mense leer ken, weet ek wat in hulle lewens aangaan, wie aangeneem is, wie geskei is, wie aaklige verhoudings met mans/familielede/ kinders het en gehad het, ens., ens. (Onthou, hulle is studente in gemeenskapsdienste en welsyn!) Die Aussies is nogal so, die Kiwi's ook. Ek sukkel daarmee. Ons se altyd dat 'n mens hulle hele lewensverhaal in die supermarktou uit hulle kan kry. Sommige dinge wil ek nie weet nie. Sommige dinge breek my hart te gou en te aanhoudend. My ma noem dit geraamtes in die kas, ek noem dit hartseer. Die Engelse noem dit issues. Soos stuff 'n wonderlike versamelwoord wat hope dinge omsluit, insluit en ook eindelik oopsluit.
Valiant dink ons is almal broken angels. Dit is seker so, as jy dit wil weet.
No comments:
Post a Comment