Total Pageviews

Tuesday, 27 March 2007

Domestic goddess

Kos is iets waarvan ek hou. Dit is iets waarmee ek myself troos en prys. My suster verklaar altyd dat kos haar breekwater teen die lewe is. Vanoggend oor die radio 'n lang gesprek oor "gastro porn" soos dit nou genoem word. Die wit kombuise, met groot borde en masjiene wat wir en woer en heerlike pesto's, klein torinkies van morsels en fyngoed uitspoeg. Ter voorbeeld word Nigella Lawson aangehaal, kompleet met lae buustelyn en vingers in die mond. En Jamie- the Naked Chef. Met sy eenvoudige geregte, wat rocket en kaffir lime leaf in my kombuis ingebring het en ongewone kombinasies soos vars salm, olywe en groenbone die Groene se "signature dish" gemaak het.

Resepteboeke verkoop selfs beter as fiksie, lees ek op Google. Ek het 'n rak vol van hulle, enigiets van getroue ou Kook en Geniet tot resepte van Japan, Thailand en Indie. Voeg daarby jare se uitknipsels van Peter Veldsman in die Rapport tydskrif en Sonja Jordt in Rooi Rose. Die Franse eet geen gereg uit 'n blik nie. Alles word van vooraf en vars gemaak. Behalwe die wyn sal die kaas en brood in Frankryk my jaaaare lank laat oorleef. Ja, ek lees hulle almal.

Noudat ek 'n huishouding moet kosgee, raak dit belangrik om waarde vir geld te meet teenoor gerief. Vir die prys van 'n ete by die Mexican Kitchen in Bendigo kan ons 'n berg vleis koop en nog vrugte ook vir 2 weke, met 'n paar blokke sjokolade daarby. En wyn in grootmaat goedkoop.

Maar ek vind tog my smaak het begin verander oor die jare. Ek verkies nou om 'n gereg van vooraf te maak, van opkap tot voorsit. Dit smaak net beter en mens weet wat daarin is. My kinders toon albei 'n gesonde belangstelling in wat in die kombuis aangaan. Imre het selfs al sy hand daaraan gewaag om my te help pizza maak of koek bak. Inez moet nog opgetel word om in die pot te kan loer.

Dit help ook dat ek nou 'n nuwe kombuis het, met behoorlike spasie om te werk. Bliss.

No comments: