So kom die boek saam Alice Springs toe met my en die kinders aan die einde van 2008. Ek tel dit nie weer op nie, behalwe om dit heen en weer te verplaas op die boekrak. En die Lane HET boekrakke. Een vir elk huisbewoner en dan nog 'n grote ('n biblioteek ene, met rakke aan albei kante). Nou het alles gestabiliseer, in 2015. Die boekrakke staan nou net op 2 plekke - in die kantoor en in die sitkamer. Vanoggend dra ek die Greenie se geskenkboek uit die huis na die kantoor se boekrak. Ek begin weer blaai deur "The milk in the sky". Nou verstaan ek dit. Nou herken ek die landskap en ervaar die gevoel en weet glashelder waarvan die skrywers praat.
My oog loop oor die boekrak terwyl ek hier staan. Ek herken boeke en herinneringe wat deur jare en dekades met my saamkom. Prysboeke van Laerskool Carolusberg ook nogal. Ek kan dit nooit weggooi nie. Dis 'n verbinding met my pa, wat al 25 jaar gelede oorlede is. Boeke gekoop op Universiteit in Stellenbosch (voorgeskrewe en vrywillig gelese); boeke gekry as geskenke, soos Best of Bosman wat Yvette Odendaal alle pad Nieu-Seeland toe gevlieg het in ons Hawke's Bay dae. Ek voel hoe my maag sink. My smaak het so verander oor die tyd, my aandagspan het soveel korter geraak, die dinge waarin ek nou belangstel is 'n wêreld verwyder van die plattelandse besoeker wat altyd aan die rand van die dampkring gestaan het.
Die grootste deel van my boekrak is nou vol boeke oor reg, regswese, menseregte, geskiedenis, gewoontes, verskynsels en politiek. Die boeke vol fiksie, drome, drama en gedigte is min en skamel op die rak en dit laat my siel honger.
Dis miskien tyd om die balans tussen werklikheid en die droomwêreld te begin herstel sodat my boekrak en my siel 'n teenwig vir mekaar kan wees.
No comments:
Post a Comment