Ek is verslaaf aan nuus. Ek kyk nuus, ek luister nuus, ek lees nuus, ek bespreek nuus, ek vors nuus na en ek wil NIKS mis nie. Een van my wildste gedagtes nog was om 'n website te begin waar mense van AL die lande in die wêreld hulle nuus elke dag kan log. Op daardie manier sien almal alles en word niks uitgelaat nie. Soms is 'n aardbewing in Chile belangriker as wie ookal die jongste Tony gewen het. Maar omdat die advertensiedollar vir my besluit wat is belangriker as wat anders het ek nie die vryheid om dit alles op een slag te sien nie. Ek reken my idee is soos die Wikipedia vir nuus. Gewone mense wat ander mense iets vertel.
Natuurlik is my idee gebaseer op mense wat kan lees en skryf en die vryheid het om die internet te gebruik waar hulle ookal bly. Wat 'n onnatuurlike gedagte is, want baie mense het dit nie. En baie mense kan nie lees en skryf nie. So miskien is 'n radiostasie wat wêreldwyd uitsaai, soos die BBC, 'n praktieser gedagte. Maar dan moet almal Engels kan praat as hulle hulle stories inbel. En toegang hê tot fone wat werk. Dalk nie.
Ek word oorweldig deur nuus. Ek huil saam met die Afghane wat in hulle miljoene opdaag om te stem en oor die proteste teen die trek van asielsoekers hier in ons land, juig saam met almal oor die oorwinning in die Internasionale Regshof omdat die Japanese nie meer ons Minki walvisse hier die Suidelike Oseaan kan kom jag nie en natuurlik: WAAAAAAR is Vlug MH-370 met sy 239 siele?
En ek voel dat die wit geraas in die agtergrond (want die radio is ALTYD aan) in my brein kom nesskop. Niks is net meer "so" nie. Alles is hoekom? waarom? wat is die konneksie? - niks is meer net wat dit is nie. Dis nuus se skuld. Ek dink te veel, want ek hoor en sien te veel. En dis beslis nie 'n goeie ding nie.
No comments:
Post a Comment