Total Pageviews

Friday, 28 January 2011

Reis na die Noorde - Deel 2

Ek en my ma vat die pad Springbok toe. Springbok het my nog altyd met 'n gevoel van ambivalensie gevul: ek was daar, maar ek was nie VAN daar nie. Die dorp bars uit sy nate na alle kante toe - vir my baie mooi om te sien, maar die bakens is steeds daar! Ons ry dwarsdeur, Carolusberg toe. Eerste 'n Carolusberger, dan 'n Namakwalander en dan 'n Bokkie. Die dorp se stilte is nog net so oorverdowend. Ek laai my ma by Tannie Miemie Ferns af, sy en Oom Gert is ouer, maar haar huis, soos altyd, is vol van die mooiste goed - kralewerk, sywerk, skilderye - die lot. Sy is al in die 70, maar geen einde aan haar energie en kreatiwiteit nie. 'n Glas yskoue koeldrank later vat ek die pad terug Springbok toe, maar ek ry via die stofstrate.

Baie het tog verander op Carolusberg. Oral HOP huisies, maar daar is die bushokkie nog! Ek soek Trix se foonhokkie om af te neem, maar dit is weg. My pa se skool is weer oop en by die klub klap lang, reguit split poles in die wind om die gehawende tennisbaan.

Op Springbok is my eerste stop Roosmaryn Meisieskoshuis. Dit is op aandete en 'n tros tienermeisies EN seuns borrel by die deure uit. Ek verneem na Juffrou Piet by Tannie Carine Hanekom (raak daai vrou nooit ouer nie????). Sy spoor vir Pieta op in Spar via selfoon en stuur my skool toe. Ek gaan wag op die parkeerterrein. Sy raak natuurlik OOK nie ouer nie en ek sou haar tussen 'n skare van 'n miljoen ander uitken. Haar eerste woorde aan my is: "So baie dankie vir jou boek, ek het dit dadelik vir Doktor gaan wys!" Doktor Kotzé het eindelik afgetree, maar sy skaduwee hang steeds groot oor die skool. Die manne wat bid vir een of ander iets jaag ons uit die personeelkamer en ons sit in die voorportaal. Ek wys vir haar die foto's van my travels tot sover en ons ruil nuus oor een en almal uit. Sy is en bly 'n merkwaardige vrou. Toe ons groet maak sy my beloof om nooit op te hou skryf nie en ek beloof, al weet ek dis 'n belofte gegiet in glas. 'n Laaste foto van die ererol om my suster te herinner aan hoe belangrik sy in hierdie lewe is en ek vat die pad verdwaal-verdwaal na Santie en LZ.

Ek en LZ is al vrinne van 1975 en sy is werklik my langste langslewende (:-)) vriendin! Ons paaie het totaal verskillende rigtings gegaan en ons het mekaar kol-kol heeltemal verloor, maar ons is steeds vasgebind aan mekaar deur ons herinneringe van sit en gesels op hulle huis se voorstoeptrappie terwyl die son oor die klub en die skool sak. My vriendin is so mooi versorg en kan enige tyd op enige voorblad pryk, maar sy is beyond hartseer oor dinge wat skeefgeloop het vir haar en ek sien hoe die mense om haar laer trek om haar te beskerm, maar hulle laat die son steeds deurkom, want in Namakwaland weet en sien en hoor die son alles en hy is geduldig. Vir die eerste keer in 'n baie lang tyd bid ek daardie aand vir 'n hart was so stukkend is dat die skerwe daarvan enigeen wat naby kom se hande vol bloedmerke laat, want daar is so baie daarvan.

Ons kuier by Santie, staatmaker, regvatter en vrou wat haar lewe bymekaar het. Solid stuff in kop en hart en ek vind dit moeilik om haar nou te versoen met daai dierbare sot van my in 1987. Haar kinders is 'n absolute delight, pragtig, slim en soveel pret om by te wees. Weer eens word ek op die hande gedra en tot in die afgrond bederf. Haar man werk weg, in Afrika, maar dis geen verskoning vir haar nie. Sy laai nog meer op haar vurk en woeker deur die dag asof dit niks is nie. Ek is trots op hierdie vrou, my junior, maar ook my senior, in soveel opsigte.

Die volgende oggend groet ons en ek gaan eet ontbyt by die Jordaans se Wimpy. Gerhard Jordaan het my die staatsamptenaar gemaak wat ek vandag is. Hy was 'n pynlike baas, by tye, maar meestal het hy my soveel tricks van die trade geleer dat ek oral en altyd werk gekry het op enige owerheidsvlak in al die lande en plekke waar ek gewoon het. Hy en Ansie se kinders is yslik groot en blom in Springbok. Ons praat, kyk foto's, kuier lekker, maar ek moet pad vat om my ma te gaan haal.

Die oues is almal traerig en tranerig om te groet. Oom Gert bid vir ons in 'n kringetjie en vra die "Liewe Vader om, as daar 'n engel is wat niks het om te doen nie, hom saam met Anna en René op die pad te stuur".

Ons ry uit Carolusberg, neem nog foto's van die skool, die klub, die onderdorp, ons ou huis, merk die huise met ons vingers "daar het die gebly, onthou jy vir daai, ai, ou Carolusberg".

Die kar mik terug na die teerpad. Ons draai regs by die stopstraat. Die Kalahari wag anderkant die Boesmanland.

3 comments:

Lank vergete said...

Pragtig jy het soveel talent span jou vlerke wyer en kring na buite.

Anonymous said...

Pragtig hoe jy dit beskryf ek sien orals waar jy was so helder voor my. Mooi hoe jy my vriendin beskryf! Nou mis ek haar sommer meer op hierdie vrydag aand. Dankie Rene!

Elizma said...

Nou voel ek darem daardie Namakwaland se Koshuisverlange erg aan my broekspype kou. My hart is flenters vir daardie jong dogter wat ek is met soveel drome, maar "as ek val, sal ek gou weer opstaan" is my motto en vriendin jy is 'n groot inspirasie vir ons!