Total Pageviews

Saturday, 27 November 2010

Besoek aan die Suidelike Land

Reis na die Noorde – deel 1

Hoekom het ek na Suid-Afrika gekom? Lang storie, totaal irrelevant hier, maar ek is hier. Met geen voorbereiding in my kop of my hart, net ‘n retoerkaartjie, klere vir so 5 dae in my tas en my selfoon. Ek wou nie kom nie, ek het vriende en geliefdes wat hier op my wag, maar ek sleep my voete oor die aanloopbaan na die vliegtuig en is so moeg tot die dood toe.

Iewers oor die Indiese Oseaan skuif my Afrika-siel in plek en toe ek die dag sien breek oor Johannesburg terwyl ek uit die vliegtuig stap, word my kop ligter. Ag, is die ontvangs op OR Tambo nie altyd sooooo entoesiasties nie – genoeg om mens te laat wonder hoe die sokkergaste in Junie/Julie ontvang is. Die wag vir die tasse laat my terstond besluit dat ek al my klere per pos gaan terugstuur Oz toe, op pad terug sal ek beslis nie die aansluitvlug na Sydney haal nie, nie met die fantastiese spoed waarmee tasse op die karousel gepak word nie.

By my ma se huis is familie almal hulle gemoedelike self en ons gesels die middag om asof ons mekaar gister laas gesien het. My ma se huis lyk nog dieselfde, ruik dieselfde en ek trek op na die boonste kamer, wat altyd so stil is asof dit nie eens deel is van dieselfde huis nie. Ons ry heen en weer en ek vergaap my weer eens vir die miljoenste maal aan die kuspad om Gordonsbaai en RooiEls na Kleinmond. Ek en my suster loop Hermanus se strate plate, ek laai vir my broer nog musiek op sy MP3 speler, ek en Moeder loop die Mall in Somerset-Wes plat en die blakerende somerson stroom oor ons.

Donderdag draai ek die kar se neus Kaap toe en gaan kuier by Smirre. My praktiese vriendin wat enige minister van finansies van geld kan leer en haar prokureur-man wat nou, 20 jaar later, vir my ‘n waardevolle bron van inligting en steun word in my eie regstudies. Hulle kinders is lieflik en praat die mooiste Afrikaans – ek maak ‘n nota in my kop om bietjie harder te probeer om self reg te praat. Ek het drie Afrikaanse biblioteekboeke uitgeneem en gebruik elke los 5 min om Francois Bloemhof se “Klipgooi” te geniet.

Vrydagmiddag vang ek Dries en Phillip en Isabel in Tygervallei. Class of 1987 – ons was 23 – 4 bymekaar is darem nie te sleg nie. Almal lyk so goed en gelukkig en al is daar misrabelheid in hulle lewens met gesondheid of werk, kyk hulle dit in die gesig en lag dit uit met oorgawe. Ek voel skielik weer 17. Sujana sluit later by ons aan, nog net so mooi soos altyd, maar fragile en ek WIL haar van my hardkoppigheid en wil van staal toe. Sy verdien beter as waar sy vandaan kom, soos ons almal.

Vrydagaand is daar nog meer vriende, nog meer liefde, nog meer gedeelde tye en tussen Volla, Marina, Belinda, Carima, Trix, Madre en Hantie breek ons alle rekords vir lag en kuier. Ek probeer dink wanneer in my lewe het ek ‘n groep pragtiger, praktieser, plesieriger vroue bymekaar gesien en ek voel weer eens, vir die miljoenste maal, dat die bande van die sisterhood so sterk is dat geen ellende dit ooit sal kan breek nie. Ek slaap by Carima – min, my gemoed so vol.

Saterdagoggend ry ek verby my skoonouers se huis, waar hulle stemme nooit weer gehoor sal word nie. Eers het ek gesoek daarna, ry straat op, straat af, ek wil nie die Groene bel en rigting vra nie, hy moet die foto’s as verrassing kry. Die huis straal dieselfde rustigheid uit as die afgelope 14 jaar wat ek daar kon tuisgaan en die tuin is in ‘n baie goeie toestand. My skoonouers was wonderlike mense, regtig wonderlik.

Ek vat die pad Weskus toe. Die weskus is vir my ‘n vreemde land, was nog altyd. Die skrille kontras tussen die graanlande en die plat see vang my onkant, soos in die verlede. Malmesbury het van die vate op die dak by die drankwinkel ontslae geraak – ek voel half gekierang uit kleintyd-onthou. Vredenburg bring heerlike biltong en ‘n heerlike kuier met Aloma in haar gemaklike huis met Saartjie en Marcelle. Ek voel hoe my wortels, wat vir so lank so uitgedroog was, weer groen en sag begin raak en skielik sien ek kans vir alles in die heelal.

Saterdagaand val ons vas op Jakobsbaai. Ek was nog nooit daar nie, maar toe ek instap by die kroeg en Alta hoor verduidelik aan Marcelle hoe sy haar lip tussen die bottel en die prop vasgeknyp het, voel ek asof ek nog nooit iewers anders was nie. Ek sien mense wat ek 23 jaar gelede gesien het en ander nog nooit, maar op een of ander manier bestaan daar geen tyd tussen toe en nou nie. Ek word op die hande gedra, ons almal word op die hande gedra, eintlik, deur Alta se man en kinders. Al die kinders wat ek ontmoet langs die pad het die mooiste maniere en ek maak sommer ‘n hele paar nota’s in my kop oor my eie twee! Ek kry weer die gevoel van misrabelheid hier en daar, die lag met die traan, maar meer lag as enigiets anders. Ons gesels sonder ophou, kyk rugby (“kom kyk, Rene, Victor is op! En Daniel!), drink wyn en water en eet tot ek vir die eerste keer in my lewe ERNSTIG voel ek gaan bars. Hoe kan ‘n aand met soveel mense, soveel herinneringe, soveel gesprekke, soveel gesels en soveel Weskus-volmaan so LIG wees? Ons gaan slaap vroegoggend. Later word ek wakker, dis doodstil en dit het in die oggendure gereen. Ek wonder vlugtig of ek moet verder ry , want dit voel vir my ek is in die paradys. Ek klim betraand in die kar en ry terug Kleinmond toe, ek weet Namakwaland en die Kalahari wag nog vir my terwyl almal om my terugkeer na die magiese Weskus.

Ek laai vir Moeder op en ons stoot deur Clanwilliam toe. Op Citrusdal stop ons by die ou plaas en ondersteun die nuwe eienaars se padstal in Tannie Hester se ou huis. Ek sien die reuse-akkerboom voor die agterdeur is weg en die ou, ou roosbome ook. My gevoelens is meer nuuskierig as hartseer. Ons stop by my pa se graf in Citrusdal en Seymour se blomme wat vir 6 jaar my huis versier het, kry eindelik ‘n rusplek. Ons soek die ander Moutons se grafte ook op, Ouma en Oupa, oom Boeta en Tannie Hester en Suster Henna. Ek se vir my ma hoe snaaks dit is dat in beide in haar en my pa se families daar mense is wat ons nie “oom” of “tannie” noem nie, maar iets heel anders.

My niggie Christa en Tannie Tienie op Clanwilliam laat die laaste paar jare wat hardnekkig vasgeklou het verdwyn. Baie hartseer vir Tannie Tienie met die verlies van haar ander dogter, maar haar humorsin is steeds vlymskerp. Ons kyk foto’s om dieselfde kombuistafel wat vir dekades in Vredendal en Durbanville in haar kombuis gestaan het. Ons lag soos mense dit kan doen wat dinge van mekaar weet wat ander lankal vergeet het en gelukkig is om mekaar weer te sien. My tannie is 90, dit is ‘n baie goeie lopiebeurt.

Die volgende dag wag Springbok vir ons.

3 comments:

Riana said...

Dêmmit! Hoe laat jy my nou verlang na Weskussterre, bokkoms en Oranjevlei se kaiingbrood!

Anonymous said...

Herinneringe is soos die kompas van die lewe maar i.p.v Noord neem dit jou terug Suid. Ons wortels bly geanker en die spreekwoord: "Bloed is dikker as water", is so waar soos "Oos,Wes,tuis,bes!"

Elizma said...

Daardie Weskus-kuier was net die eerste van baie wat nog gaan plaasvind. Jakobsbaai hou beslis van jou en so ons ander wat hier in die rondte bly, nee, ons is liewer vir jou, want ons ken jou!!! As Alwi en Dries hul belofte hou, gaan ons mos volgende jaar weer reunie hou!!