Total Pageviews

Sunday, 19 October 2008

Dis nooit maklik om koebaai te sê nie

Die dae loop uit hier in Heathcote. En die langverwagte amper-somer het intussen opgedaag. Ek voel my toenemend alleen en aan verlies. Die rondtes van groet en beloftes van weersiens ken ek nou al te goed na soveel jaar in die buiteland.  Daar hang 'n onrustigheid oor die huis wat die kinders, die katte, my ma en my beïnvloed. Vir die eerste maal in baie jare skrik ek snags 3 uur weer wakker. Die trekmense sal pak, maar ek vind myself tog dat ek telkemale deur die dag items met my oë aanraak en 'n knoop in my brein maak: dit moet saam in die kar, dat moet saam met Imre op die vliegtuig en so aan. By die werk knoop ons die laaste los drade vas: 'n verslag vir oulaas, die oorhandiging en uitdeel van take, die kennisgee van my vertrek, laggende praatjies oor 'n lekker, informele afskeid. Ek praat met Phil en voel die trane in my keel opwel soos destyds met Stephen in Hastings toe ek onbedaarlik begin huil het terwyl ek hom kennis gee dat ek na Oz vertrek.  En daarna elke keer in trane uitgebars het as ek hom sien, tot sy en my verleentheid.

Soggens 3 uur, as ek klaar deur die inventaris in my kop gewerk het, sien ek my en die Groene en die kinders in die Outback. Hoe ons langs 'n gorge ons swags ooprol en die bloedrooi son sien ondergaan. Ek voel die son op my skouers in die middel van Alice in die middel van die winter. Ek speel saam met Imre gholf op die baan met die vreeslik baie sandkuile en gaan stap saam met Inez in die Desert Park. En ek raak snags aan die slaap met my kop op my man se skouer - onthou vir geen oomblik die duisende ure se verlange nie. Dit is die maklikste ding om hier in Heathcote agter te laat.

No comments: