Total Pageviews

Saturday, 13 September 2008

Tula baby

Die Groene was hierdie week by die huis. Salige dae en nog saliger nagte het in die knip van 'n mooi meisie se oog omgegaan. Sondagoggend het ons ons eerste woordewisseling - genadiglik ook die laaste en bring 'n lekker Vadersdag deur. Maandag, Dinsdag, Woensdag werk en tandarts en dinge. Maandagaand soek ons 'n eetplek, te vroeg vir die nuwe Thai restaurant, te ver gery na die Redesdale Tavern - toe op Maandag, trouens geen besigheidsure op die deur nie. Ons eindig by die middle pub - eintlik die Commercial Hotel, maar Heathcote het 3 pubs en almal praat van die top, middle and bottom pubs. Ons is 4 van 5 gaste daar, die ander sit rustig en lees sy boek. In die kroeg gedeelte is die Saints en hul ondersteuners besig om hul sorge te verdrink. Die span het dit vir die eerste maal in 13 jaar die eindstryd gehaal, net om te verloor teen kleine Colbinabbin. Ons aanskou Jess se geveg met haar Aussie Rules boyfriend en beelde van Jacques van Dyk en Stallions in Kimberley doem voor my op. Genadiglik is daardie tipe angs 'n leeftyd ver verwyderd.
Donderdag en Vrydag het ek verlof. Ons gaan ondersteun Imre Laan en die Groen Span by sy eerste atletiekbyeenkoms. Ek ondervind weer eens die wonder van die Australiese kleindorpse gees - dit wat mense bymekaar hou. Die dag is lank, lank, lank en tussen Inez Laan red wat reg voor die hoogspringers inhol, weier om van die atletiekbaan te klim en die wind en die son is ek poegaai aan die einde van die dag. Die Groene vat alles in sy stride, troos Inez, speel met ander kinders, gesels en vang op met ou vriende (insluitende sy bewonderaarsklub) en ek wonder weer eens hoe kry hy dit reg? Ek huil my kis Donderdagaand omdat hy weer weggaan, omdat ek nie werk kry in die Alice nie, omdat ek nie geld het nie, die hele sous. Arme, arme ek. Teen sesuur die aand raak ek aan die slaap vir 20 minute en word 'n nuwe mens wakker. Ek verklaar prontuit: "Ellende se moer! Ek is baas en daarmee basta. " Drink 'n glas witwyn uit die Clare Valley en voel sommer stukke beter.
Gisteroggend vat ons die pad Melbourne toe. Twee maal in 4 ure word ek gebel en vir 'n onderhoud vir werk genooi in die Alice. Ons drink van Max Brener se wonderlike chocolate, maar dink nie veel van die diens wat so agteruitgegaan het nie. Ons koop praktiese boeke by Borders, geniet die groot musikale klok met die pappegaaie en kokketiele en jaag terug na Heathcote om Imre by die skool op te laai. Ek bel my vriendin Marié om op te vang met nuus, ons bel Toeks ook sodat sy 'n slag haar boyfriend kan groet. Ek en die Groene gesels lank, kyk Wire in the Blood en klim laat in die bed. Vanoggend ry ons terug na die lughawe, ons kyk na
die pragtige goue wattles langs die pad, die rotsformasies by Pyalong en luister na musiek van 1985 op die radio. Ons drink vir oulaas 'n lekker koffie en net so skielik is hy weer weg. Terug na die Paradys.
Ek en die tamariki ry na die SA winkel in Templestowe, al op die maat van 1985 (nog steeds). Gewapen met proviand van Mrs Balls, Ina Paarman, twee peperduur Savannahs en 'n bottel 5th Avenue Cold Duck vat ons die pad Seymour toe. Ek het presies 20 jaar gelede 5th Avenue Cold Duck gedrink. Wie kan nou ooit die Pink Party by Monroe's op die Bos vergeet? Ek stel die toekomstige publieke figuur en advokaat bloot aan die briljante Bowie. Net duskant Broadford val ons terug op die ewe (myns insiens) briljante Koos Kombuis. Ons drink koffie by Michelle, skinder lekker oor die en daai en koop piekniekkos by Safeway. Ek en die kinders stop by die Lions Park en stap langs die rivier af tot ons 'n sitplek kry. Ek inspekteer die vordering van die 3 boomplantdae wat ek gereël het in Seymour. Die klein wattles het heelwat blomme aan. Die rivier is laag, ons sien ten minste tien eende en 'n menigte rosellas.
Ek stap stadig terwyl die kinders vooruit hardloop. Ek dink aan die Groene, hoe veilig hy my altyd laat voel, hoe hy my wêreld weer waterpas op sy as laat kantel, hoe hy my siel nie toelaat om in die klein spasie tussen twee ure in te glip en spoorloos te verdwyn nie en ek wonder hoe kry hy dit reg?

No comments: