Total Pageviews

Thursday, 6 March 2008

Mis

Mis is 'n foggy state of mind. Jy kan dit nie vasvat nie, dit omsingel jou, sluit jou af en jy probeer dit wegdruk met jou hande. Sonder sukses. Jou hart is loodswaar, jy kan nie lig sien nie, alles is dof en jy voel jy is rigtingloos, sonder einder, sonder horison.

Ek sleep die laaste drie dae al my voete, probeer om oor struikelblokke te klim omdat ek nie kan sien nie, voel-voel my pad deur die week.

Dit het alles begin op die vliegtuig. Nee, nog voor dit, toe my keel toegetrek het. Soos dit altyd doen. Vir 'n paar oomblikke op die lughawe het ek gedink: los dit, mis die vlug, bly hier. Maar natuurlik kon ek nie. My kinders. My ma. In Victoria. En ek in die Paradys.

Ek het al begin huil toe ek die sitplekgordel aansit. My keel bottoe en my hart 'n anker van 'n ton wat my vaspen. Toe die huil ophou, probeer ek lees, kyk 'n fliek en fokus my kop op die suidelike einder - net om te vind dis nie daar nie. Geen baken, geen vashouplek - alles wat rigting gee aan my bestaan is agter my, op die grond.

By die huis is net vreugde en blydskap, rus en werk en allerhande deugdelike dinge. Mooi goed, waarmee mens jou ure kan vul. Vriende, verslae, vergaderings en funksies. En die skynbaar eindelose swewende, wiegende gevoel in die oomblikke wat die gemis my onverhoeds betrap - vroegoggend, middagete-uur, 'n goeie grap, 'n skielike e-mail en snags, donker en stil.

Ek vra myself hoe kan een mens 'n ander so mis? Hoe kan jy heeldag op watte loop? Jy draai herinneringe oor en oor, probeer dit ophang aan die hake langs die pad, maar jy kan nie sien nie. Die mis is te swaar.

No comments: