Total Pageviews

Sunday, 24 February 2008

Toe!

Niks kan ek minder verdra in die lewe as TOE goed nie. Toe deure, toe boeke, toe bottels wyn (!) en toe mense! Nie net onnosel of stiksienig nie, maar mense wat toeklap, toeskulp, terugtrek. Hoe in die lewe verwag hulle om dinge uit te kan sorteer? Hoe het wegloop en ignoreer nou al ooit enige situasie gehelp? (Vra maar die Natte pre-Kortbroek, hulle het die hele situasie op 'n moerse skaal misgeloop!)

In die ou tyd, of miskien die laaste paar jaar laas, nie eens so oud nie, het mense nie oor goed gepraat nie. Afrikaners is konings daarin, praat oor niks, sê niks, maar verwag, somehow, 'n wonderbaarlike oplossing gebou op, wel, niks. Seker die oorblyfsels van ons Britse bloed (al wil ons dit nie aldag erken dat ons eens Kakiebloed in onse are het nie), want die Franse en die Kase praat, beduie en skinder aldag lank oor alles. En die Swart bloed in ons are kan ook nie blameer word nie, want hulle is 'n jollie lot. Miskien die oorweldigende vrees wat Afrikaners het vir "wat sal die mense sê?" Nou ja, na jare in die Noord-Kaapse vryheid en lewe hier in die vreemde, kan ek in alle opregtheid vra: Who the hell cares?

As ek in die aand die deur in my huis toetrek (ja, toe), waar is HULLE dan om my te help met skottelgoed, boeke wegpak, leesboeke oor te trek, heelnag met 'n siek kind op te sit, te gesels oor dinge wat saakmaak en van meer belang is as die weer en politiek? Nie hier nie en nie daar nie, want HULLE bestaan nie, HULLE is 'n figment van die verbeelding, HULLE is en was nog altyd 'n mirage.

Toe die Liewe Vader die aarde gemaak het, het hy niks weggesteek nie. Mense kan swem om onder die see te verken, manne kan nou na die maan vlieg om te sien wat in die buitenste ruim aangaan, niks is meer geheim nie. Die grootste geheim in die heelal is die vorming van 'n klein baba in 'n piepklein ruimte in die donker vir 9 maande lank. So, as die Allerhoogste in Sy almag dan nie die nut van geheime kon sien nie, wat laat ons as nietige wesens dink dat geheime en stilbly dinge hoegenaamd kan verander? DIS nou vir jou arrogansie van die grootste skaal, maar nou ja, arrogansie was ons altyd nog ook konings mee in SA...

No comments: