Total Pageviews

Saturday, 24 November 2007

Perfect relativity

Daar is vir my min dinge so mooi soos 'n somervel. Goudbruin, gesond en werklik gloeiend. Hier in Aussie het die somer met mening toegeslaan en goue lywe is oral. Al daardie prentjies wat jy al ooit van Bondi Beach (Sydney) op tv gesien het, is waar! Net, met die voordeel, dis nie beperk tot Bondi nie
Hulle sê die Aussies het 'n vetsug probleem. Ons kinders raak vetter by die minuut en oues land in hospitale met diabetes en harte wat gaan staan. Ek sien op die oomblik nie veel daarvan nie. Man en muis is in kortbroeke, minirompe, singlets en plakkies (die amptelike Aussie skoen). En dit is 'n vreeslike mooi gesig.
My eie kinders het een ma se vel en die ander pa s'n. Imie moet maar veel uit die son bly, maar Inez se vel is alreeds 'n pragtige olyfkleur. Ek spandeer nie meer ure in die son nie, maar die beste gevoel in die wêreld vir my bly steeds die son op my kaal skouers. En om te sien hoe my hande bruiner en my gesig goud raak. Dit is die essens van somer.
Dit bring my by 'n ander punt: met soveel lyf on show, hoe perfek moet jy wees? Wat van al die kolle, rekmerke, hare en moesies wat nie daarmee gepaard gaan nie? En praat nie eens van tattoos nie. Dis byna verpligtend hier en in NZ. Tesame met die ander bling op skou: naeltjieringe. Dinge wat veel kuis weggesteek is gedurende die winter.
Op die rype ouderdom van 38 gaan ek nou gym toe 3 maal per week. 'n Goeie corporate deal, maar ek moet erken ek geniet dit ook werklik. Ek voel soveel beter en het hope energie. Die mengsel van musiek, polsende ritme en 5 paar bene wat in tyd loop op die treadmills is iets wat vir my tegelykertyd vreemd en so reg voel. Natuurlik is my lyf nie perfek nie, maar vir wie wil ek nou eintlik perfek wees?
Mense het jou lief, of nie. Jou kinders het jou onvoorwaardelik lief (of nie!). Perfeksionisme is iets wat glad nie bestaan nie. As dit het, sou hope mense al daar gewees het. Ja, hulle kan probeer, maar hulle sal altyd tekort skiet. Dit is hoe dit is en ek sien dit op die straat en in die spieël, elke dag.

No comments: