Ja, ek het baie lanklaas geskryf. Ek spandeer te veel tyd op Facebook. Waar gedagtes en menings vasgevang word in enkelsinne en vasvralyste. Ons praat met mekaar, meer intiem as ooit ken ons mekaar deur Facebook en meer as ooit bly dit kil en koud en ver.
Die winter is hier in die Alice. Die dae is vars en helder, soos 'n winter in Namakwaland. Ek kon gisteroggend sweer ek is in die Kaap toe ek voor Inez se dagsorg op die nat teer staan met die son wat sy kop lig en die duiwe wat koer in die bome. Ja, ons het reën gehad, vir lank, meer as 12 ure - sag en aanhoudend. Dis nie die wet season nie, maar hier in die woestyn sê mens mos nooit nee dankie vir bietjie water uit die lug nie.
Die dorp is steeds tjok-en-blokvol van toeriste. Ek en die Groene dink die hele Frankryk is hier. Het nog nooit soveel Franse saam op een plek gesien nie. Die dorp beef en die feeste kom vinnig en opmekaar. Hierdie naweek sien die begin van die Finke Desert Race. Dit is 'n gejaag en geploeg deur modder en pomp meer as 3 miljoen dollar in die plaaslike ekonomie. Daarna kom die Beanie (dis 'n mus) Festival en dan nog meer en meer dinge wat sonder ophou aanhou. Dis koel, die vlieë is minder en dis die ideale tyd om te kom kuier in die Alice.
Ek wens ek kon al my Facebook vriende versamel en hulle hierheen bring om die wonder van die woestyn saam met ons te kom geniet.
No comments:
Post a Comment