Die afgelope 3 dae loop ek met 'n sinushoofpyn rond. Wel, loop partykeer en lê die ander kere. Dis so 'n ....wel, pyn! Ek kry sinushoofpyne al jare lank. Toe ek jonger was, het ek gedink dit is dalk migraine (want wie dink nou jou neus kan jou na pyn lei?), tot ek mense met werklike migraine ontmoet het.
Ek en my neus het 'n haat/liefde verhouding. Ek respekteer hom en hy ignoreer my totaal. Hy is die barometer van my gesonheid - elke dag. Namakwaland se beautiful blomme was nie 'n goeie ding vir my nie, nooit nie. Hooikoors 24/7 in die lente. Maar mens groei daaruit. Stellenbosch se koue, nat winters ook nie. Verkoue en hoes sonder ophou - wat, hoe dan anders? begin met 'n post nasal drip. Auckland se smog - yuck! En toe Victoria se somers - vrot van die stuifmeel, die vuurrook en die stof. Ek dink nie dis toevallig dat my aanhoudende hoofpyn hierdie week saamval met DSE se voorbrande nie. Die plek lyk en ruik soos Soweto in die middel van die dag. Jajajaja - ek weet, dis nodig. Maar dit maak my neus gek. En my neus haal dit op my kop uit. En ek het ongelukkig my kop nodig om te kan dink en werk.
Toe ek 'n tydjie gelede na die Alice was, klim ek uit die vliegtuig. Die eerste ding wat ek doen is snuif - jy kan nie anders nie! Die lug is so vars! Toe ek uitklim in Melbourne 'n paar dae later, toe begin ek hoes en hou nie op voordat ek nie antibiotika gekry het nie. Dalk het die Japanese iets beet met daardie maskertjies wat hulle dra. Ons het een hier iewers van toe Imie nog in die neonatal unit was en die Groene 'n verkoue gehad het. Ek kan nie help om jammer te voel vir die Olimpiese atlete later vanjaar in Beijing nie.
No comments:
Post a Comment