Total Pageviews

Sunday, 30 March 2008

Sit

Ek kyk vanaand so bietjie deur 'n jaarblad van 'n skool in NZ. Seunskool. Die jong gesigte, die hare (!), die kontraste van old boys en young turks langs mekaar. Foto's van saamtrekke, almal vasgebind aan mekaar deur hulle konneksie met hierdie skool.

Ek sien hoe die rugbyfoto's lyk - soos dit al langer as 'n honderd jaar lyk. Al die jong spelers met vuiste gebal net bokant hulle knieë.  Ek blaai na die sokkerspelers - hande ontspanne en oop op hulle bene.

Ek dink oor skool en oor koshuise en mens se konneksies met diegene waarmee jy saamgegooi is in 'n standerd of 'n klas of 'n gebou.

Ons was 105 Matrieks in 1987. Van hulle het ek nog kontak met omtrent 7, sommige meer, ander minder. In Huis Div was daar 150 dames. Met hulle het ek net kontak met my kring van vriende en niemand eens in een van my klasse nie  - wel, dis nie waar nie, want ek het nog kontak met 2 mense uit my honneursklas van 6. Daar is niemand in een van my klasse van 1988-1991 met wie ek nog kontak het nie. Wat sê dit? Wat beteken dit? As skool die groot gelykmaker is, is universiteit die groot verdeler?

Ek en die Groene was saam op die Bos - mekaar nooit eens een keer raakgeloop tussen Neethlingstraat en die Akker nie.  Ek en die Lang Man ook - hom het ek dadelik herken 3 jaar later (bisar soos dit is).

Maar ek dwaal af, ek wou praat oor sit - die halfpadmerk tussen staan en lê. Sekerlik die posisie waarin ons die langste gedeelte van die dag deurbring (thanks for nothing, computers!)  Mens moet sit om iewers te kom, deesdae. Jy sit op treine, in karre, op fietse, op die internet, op jou baas se skoot - hahaha.

Die kantoor wat ek nou het, het 'n onsigbare venster. Ek sien mense, maar hulle nie vir my nie.  Daar is 'n bankie of twee teen die muur net buite die venster.  Soms sit my kollegas daar. Hulle rook 'n bietjie, lees 'n stukkie of vang op met middagete en vriende.  Soms sit daar lede van die publiek (dit is after all hulle geld wat vir die gebou betaal het!) 'n Jong meisie sit baie daar deesdae, sy eet toebroodjies en dra bitter kort rompies. Verlede week het ek 'n rastaman daar gesien. Iemand gewoond aan buite leef. Totaal op sy gemak met die oë wat na hom kyk van die kantoor langsaan (hulle het 'n gewone venster).

Baie mense sit mooi, sommige vroue so elegant. Mans wat hulle bene kruis kon ek nog nooit klein kry nie.  Wat my terugbring by skool - tydens die saalbyeenkoms het al die onderwysers altyd op die verhoog gesit. Waarom? Geen mens weet nie. As leerlingraadslid moes ek altyd in die voorste ry sit, maar, helaas, sterk my voete onder die stoel indruk omdat my skoene nooit ooit Carolusberg se stof afgeskud kon kry nie.  Daar het ek gesien hoe sit 'n regte dame in Juffrou Visser. Wat haar  eerste naam was, weet ek nie, maar sy het Engels gegee.  Die week slaan ek die koerant oop. Nicolas Sarkozy is in Brittanje met sy sjarme offensief. En daar sit sy nuwe vrou, voormalige model en nou sangeres, Carla Bruni. Met haar bene netjies opmekaar gestapel, beide voete in ontwerperskoene na die regterkant gevou.  En ek sien dat SIT, meer as STAAN of Lê, 'n boodskap uitstuur van wie en wat jy is.

No comments: