Total Pageviews

Tuesday, 1 January 2008

Affair

Die Groene was by die huis die laaste 10 dae. My beste Kersgeskenk ooit. Ons was nog nooit so lank van mekaar geskei nie. Ek kan al die redes waarom ek in 1995 so hard vir hom geval het, nou herhaal. Soveel dinge wat net reg en in plek is. Ek weet goed vir baie van ons vrinne lyk ons na 'n odd couple. 'n Prater en 'n stille, 'n 0 en 'n 1. Maar, wat mense nie weet nie, is dat ek al vir langer as 12 jaar die laaste woord probeer inkry in hierdie huis. Onsuksesvol.
Maar wag, ek dwaal af, waarvan ek eintlik wou vertel is die houvas wat 'n ander vrou op my man gekry het. Haar naam is Alice en haar van is Springs. Toe die Groene by die deure van Hek 1 uitgestap kom op 21 Desember 2007, kon ek in sy oë sien sy het hom reeds in haar kloue. Ek ken daardie kyk, die versigtige luister vir klanke wat mens nooit in Melbourne sal hoor nie, die stadiger, behoedsame stap, die vroetel om in pas te kom met waar jy nou is. Ek het maar net gemaak of ek niks sien nie, dit ignoreer en huis toe gery. Die kinders was baie bly om hulle pa te sien. Maar die warm nagte het haar weer in ons huis en ons slaapkamer ingebring: die rondrol, die rusteloosheid, die stil-stil lê en luister met oop oë na die voëls se geraas nog voor ligdag.
'n Paar dae gelede het ek my mond oopgemaak. En die feite vierkantig op die tafel gelê: ek weet hy loop met ander dinge in sy kop rond. Hy was verstom dat ek dit raakgesien het, maar het niks ontken nie. Ek het hom vertel van my eie verhouding met die Kalahari. Hoe ek daardie selfde kyk in my oë het as ek daar was. Die houvas wat die plek op my het, kan ek nie verklaar nie en ek wil en sal dit ook nie opgee nie! Hy het geluister en verstaan, soos ek gehoop het.
Ons het lank na mekaar gekyk, die een so skuldig soos die ander -beide onmagtig om te veg teen kragte baie groter as onsself.

No comments: