Ek sien Elisabeth Eybers is dood in die rype ouderdom van 92. 'n Lewe geleef in die skadu van watervalle van woorde. Nog een van Breyten se bome wat geval het. Hamba kahle, Elisabeth.
Kyk vanaand na 'n dokumentêre program oor Johannes Kerkorrel. Ek is 'n kind van die 80's, die rook, die traangas, die noodtoestande, die dermiljoene onsigbare swartes en die wye vlaktes van Namakwaland. En ek is 'n vry mens van die 90's. Twee dinge het die essensie van my menswees onherroepelik verander: 27 April 1994 en my 2 weke juriediens in April 2004 in New Zealand.
Maar, lank voor dit, die Voëlvry konsert verbied op die Bos se kampus. My belang in Voëlvry het niks met Kerkorrel uitgewaai gehad nie. Ek het daarin belangestel, want my boekkennis het my daarheen gelei via André le Roux du Toit, deesdae Koos Kombuis en eens ook André Letoit. Ek was nog altyd 'n beter leser as 'n sanger. Koos se wonderlike bundel kortverhale "My nooi is in 'n tikmasjien" was so lewendig, jare later het ek Abany Residensie in Sunnyside self gesien en natuurlik het hy so baie in Bakhoven rondgehang op die Bos. Nie dat ek hom ooit ontmoet het nie, maar wat ek onthou was 'n sonnige dag op die Bos en Koos wat staan en sing onderaan die trappe van die Rooi Plein. Kerkorrel het in die gehoor gesit en tussen songs het van die studente gevra of hy sal sing. Koos het beleefd gevra: Johannes? En Kerkorrel het beleefd geweier. Selfs toe het ek gedink hy was ongeskik - maar nou ja, dalk was hy te famous vir homself op daardie stadium (soos die dokumentêr inderdaad ook beweer!) Van sy songs hou ek, maar die beter woordprofeet was myns insiens nog altyd Koos. Soos 'n goue draad loop daardie man se boeke en songs deur my lewe.
April 1994: die euforie en die wonder. Dit was 'n verskriklike koue herfs en winter in Kimberley daardie jaar. Ek het 'n skrale 62 kg geweeg. Daar was niks aan my om my te anker, of warm te hou nie - letterlik nie. Ons het op verkiesingsdag lekker geëet met Lize en Johnny en toe videos gekyk totdat die uitslae begin uitkom het. Onthou jy? En ons besoek aan die Noord-Kaap wetgewer om middernag. Hoe jy saamgegaan het, al het dit totaal teen jou sinne ingedruis? Die ou vlag, die nuwe vlag. Die nuwe volkslied. Die stilte, met net die delwers se monument se waterfontein in die agtergrond. Magersfontein revisited. En in Julie daai jaar, hoe jy my "High Point se k*khuis" van Koos gaan wys het. Teen die agtergrond van Hillbrow se toring van Kerkorrel wat sy seine uitstuur en waar Anton ook sy brief aan Simone geskryf het. Nog nooit kon ek weer na daardie toring kyk sonder om aan jou te dink nie.
Ek is 'n kind van die 80's en vry in die 90's. Ek hou van Ingrid Jonker se gedigte, ek hou van die magiese realisme daarvan, maar moenie my vra van ou kalante nie. Geen Breyten of NP of Uys vir my nie. Ek het my literêre tande gesny op Koos, Ettienne van Heerden, John Miles, Elsa Joubert en soms André P. Brink. Struggle literatuur. Voeg daarby Milan Kundera en goeie ou staatmaker Jean-Jacques Rousseau en jy het 'n lekker toksiese mengsel van sosialisme, wanhoop, ideologiese uitdaging en boere-hardegatgeid. Alles in een kop saamgevat.
Ek het die voorreg gehad om te stem in Suid-Afrika in 1994. En was daar om Namibië se onafhanklikheidsvieringe van Van Zylstraat in Windhoek gade te slaan. Maar meer te hoor as te sien. Imre is gebore in 2002 net 'n paar dae voordat die klein, klein nasie van Oos-Timor hulle vryheid na dekades van bloed van Indonesië gekry het. Ek onthou ek het in my bed gesit, voos van die baby blues, natuurlik en na die radio geluister. En so lank en aanhoudend gehuil van vreugde dat vryheid steeds bestaan en bereik kan word.
En dis miskien waarom ek steeds hou van Koos. Hy het sy lewe reggepluk (in konserwatiewe terms), het getrou, 'n pa geword, skryf steeds oor allerhande dinge, meer alledaags daarby. Maar Koos, klompe en al, is steeds so vry soos die wind en sal vir my altyd die spirit van die 80's en 90's in Suid-Afrika bly.
1 comment:
Om te kyk en van ver af te bewonder
Post a Comment