Lank gelede toe die Groene nog na my gevry het, het hy my eendag gewaarsku oor ons twee: Dit is nie 'n kwessie van of nie, dit is 'n kwessie van wanneer. Hier is ons nou, 12 jaar later. Maar ek dink nie deesdae daaraan in hierdie positiewe konteks nie.
'n Neef van my in SA is verlede Maandagaand in die bobeen geskiet toe sy kar gekaap is. Dit is die eerste maal wat sulke geweld so naby aan my kom. Self kan ons geen horror stories oor SA vertel nie. Ja, daar is wel 6 keer by ons karre ingebreek (een keer vir klere en die ander vir selfone), maar dit is al. En toe het ons getrek. Verlede jaar was ek in SA, met my Kiwivriendin, Lin. Ek moet erken ek was uiters lugtig. En het nog haar veiligheid ook gehad om oor bekommerd te wees. Ek het nie eens my trouring aangehou nie - lees te veel stories oor vingers wat afgebyt of afgekap word om ringe te kry op news24.com. Ons was 'n paar dae in JHB en dit was heel veilig. Ons was ook veilig in die Noord-Kaap.
Die enigste situasie waar dit snaaks was, was net digby die Klapmuts pad. Daar het 'n aankomende kar sy ligte vir my geflits - al was my hoofligte op domp. Gelukkig het ek Instede van die liefde gelees. Of dit waar is of fiksie, ek het nie reageer nie, want, volgens die boek is dit hoe bendes hulle volgende teiken kies om te intimideer op pad en plat te skiet as inlywing tot die bende. Ons het ook veilig terug gekom.
'n Paar weke gelede is my vriende van SA in Melbourne rot en kaal gesteel. Nooit iets weggeraak in Skotland waar hulle eers gebly het nie. Gisteroggend het 'n man 3 mense geskiet in Melbourne se middestad. Nou hoe nou en wat nou? Mens is maar net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.
Mense emigreer om verskillende redes. Geweld was nie 'n rede vir ons nie, maar diegene wat daaroor dink in die lig van geweld moet goed besluit waar hulle die streep wil trek. Wil jy wag vir die kaping? Die verkragting? Die ontvoering van jou kind? Die plaasmoord? Emigrasie is duur: finansieel en emosioneel. Vrees is dalk 'n goeie dryfkrag, maar of dit 'n goeie kompas is glo ek nie.
No comments:
Post a Comment