Hierdie week het ek dinge beleef wat ek nog nooit in my dae gesien of gedoen het nie. Eerstens het die Groene 'n werksonderhoud gehad in 'n dorp 1 uur se ry van hier af. Ons laai vir Imre by die Kinder af en ry oor. Ek en Inez doen 'n bietjie vensterinkopies terwyl Vader sit en sweet in die konferensiekamer van die voornemende werkgewer. Sy onderhoud begin 11 vm. Ek en Suster loop heen en weer, doen later sommer klein inkopies ook - dit is nog 'n 35grade dag in Yea. Toe dit 1uur nm raak loop ek by die deur in en vra die baie vriendelike en baie sensitiewe manlike ontvangspersoon of hulle nog nie klaar is nie. Hy antwoord hulle het 11:30 vm eers begin en sal seker aanstons uitkom. Teen 1:10 nm ry ek met Inez terug na Heathcote - Imre se skooltjie kom 2:15 nm uit. Ons stop net betyds voor die hek. Intussen bel die Groene net toe ek deur Seymour storm (nog 51km van Heathcote af). Ek se hy moet wag, ons kom terug vir hom. Op pad wonder ek: waaroor praat 'n mens in 'n onderhoud wat 2 ure lank duur? In hoeveel diepte gaan jy? Of hoeveel eindelose lyste van vrae het die paneel? In my geestesoog sien ek 'n kombinasie van toetse, gevallestudies, detail vrae en antwoorde en, sommer vir die lekker daarvan 'n kamma-begroting wat moet klop wat aan my Geliefde voorgele word om te voltooi. Ek dink aan my eie onderhoude - twee per foon ook al. Aan die keer toe 'n personeelagentskap in NZ met my wou skinder oor die CEO vir wie ek toe gewerk het - ek onthou hoe naar ek geword het. En natuurlik my heel eerste werk, wat ek gekry het danksy my vriendin Smirre. Alhoewel ek nie reken sy sal dit eers onthou nie! Haar suster se vriendin het bedank by die Bevolkingsontwikkelingsprogram en sy het my aangemoedig om te bel en te vra. Ek het dit gedoen en 'n paar maande vars uit US het ek in Upington begin werk. Dit was die "glory days" waarvan Bruce Springsteen praat. Die werk wat ek tans doen het ek letterlik wonder bo wonder gekry - ek was siek soos 'n hond die hele naweek voor die onderhoud op die Maandag. Die Groene moes my na Shepparton ry en ek was koorsig. Agterna het ek gereken die kanse is minder as nul: ek kon net uit die hart en uit die "gut" praat. Omdat ek so koorsig was kon ek geen samehangende verslag of opsomming of selfs behoorlike gevallestudie gee nie. (Ook maar net sowel ek het die keuringskriteria so deeglik beantwoord). Toe bel hulle my tog. Wat my laat dink het: hoe vrot was die ander kandidate nie!
Terug in die hede: Gaan laai toe die Groene op (wat intussen 3 ure lank in die coffee shop sit en omtrent al verniet tee kry!), vra wat het hulle so lank gepraat in die onderhoud? Hy se net gewone goed, hulle wou detail antwoorde he en het belang gestel in sy Suid-Afrikaanse ervaringe. Ek vra: is dit AL? Hy se ja en maak sy das los. In Seymour ruil ons bestuurders om en hy kry die laaste stuk Heathcote toe. Ek reken as hy nie die werk kry nie, behoort hulle dit vir my te gee vir my effort!
Gister was dit Operasie Spysenier in hierdie huis. Die plaaslike Rooms Katolieke laerskool kon nie die jaarlikse spyseniering doen vir 'n groep vroue wat elke jaar hulle Sone kongres in Heathcote hou nie. Hulle vra ons toe, die Kindergarten komitee. Ek is die hoof indoena vir fondsinsameling. Ek se toe ja om twee redes: geld vir die Kinder (ons moet vanjaar 10 000 dollar bymekaar kry) en ek wil he die mense moet weer Heathcote toe kom en nie wegbly omdat hulle nie iemand kan kry wat vir hulle kos kan gee nie (dit is nou die community developer in my). Die menu wat hulle versoek het, is toebroodjies, aspersierolle, dim sims en nog iets broderig wat my nou ontgaan, sowel as vrugte- en groenteborde. Ek bel die dame in beheer, stel voor ons maak vir hulle 'n aangenamer en beter menu met 'n paar soutterte en nog steeds vrugte en groente. So gese, so gedaan. 'n Paar ander komiteelede kan help, sommige gister, ander vanoggend - die oggend van die FUNKSIE. Die belangrike lid op die komitee (met die dubbelloop-van en die Jennifer Aniston hare, wie se man 'n wynmaker is), bied aan om worsrolletjies te maak. Die ander kommandeer ek op om te kom kap en snip by my huis. Die voorsitter kom kap en die sekretaresse ook. Die sekretaresse het 3 kinders, die voorsitter een. Al 3 soet, al een stout. My kinders dink dit is Kersfees, ek pak vir hulle speelgoed uit en verder moet die Groene hulle oppas. Ek het plek ingeneem agter die toonbank en een quiche na die ander in die oond gestoot. Teen 5 nm was ons klaar. Net 'n paar broodrolletjies om te maak het oorgebly. Dit het ek sommer gedoen terwyl ek ons pizza-deeg voorberei het. (Vrydagaand is pizza-aand hier by ons).
Toe ek voor die tv neerval met my kuite wat pyn van heeldag rondstaan, gaan sit ek met 'n lekker rooietjie in die glas. Fout nommer een. Toe die pizza uit die oond kom was dit van die beste nog ooit. Fout nommer twee. Die een glas wyn word 3 en die 1 stuk pizza word 4 skywe. Nou ja, vannag word ek seker 5 maal wakker en droom aanhoudend ek verslaap. Intussen het my kop begin klop. Vanoggend besoek ek die toilet nie vir die gewone redes nie! Die Groene, soos net hy kan kophou, gaan stort solank en begin die terte en goed in die kar laai. Ek bel die belangrike komiteelid (wat natuurlik nie haar foon voor 8 in die oggend antwoord nie!) en vra haar om koffie te kry, wat die voorsitter gister vergeet het. Die Groene is eerste by die gholfklub en dra alles af, order selfs die belangrike komiteelid rond. Ek is trots op hom. Ek probeer slaap tussendeur die kinders wat om my en oor my speel. Die land van vaak is 'n wonderlike plek. Vanmiddag gaan haal die Groene alles weer en rapporteer terug. Die ou dames het alles geniet, net een het gekla oor haar quiche koud was (ek is verstom: ek dag almal in die heelal weet jy sit 'n quiche louwarm voor! en het die komiteelid nie aangebied om dit in die mikrogolf te sit vir 'n paar sekondes nie?) en dieselfde een het gekla oor die tee. Die Groene het net een groot en een klein bordjie terug gebring met leftovers. Die res is alles weg.
Intussen maak en vir my 'n koppie van die einste peperment tee waaroor die ou dame gekla het - heerlik! En drink vir die eerste maal vandag 2 pynpille. My kop begin lig en ek tel die koerant op. Later gaan die Groene bed toe, die kinders kyk Spider-man en ek kom my vepligting teenoor die kubertoeskouers na. O ja, ons het $518 gemaak. Nie sleg vir 4 ure se werk en 'n moerse kopseer nie.
No comments:
Post a Comment